Gelukkig vir die kinders van Riverside Gardens het die son toe wel tussen al verlede week se storms darem op Jeugdag kop uitgesteek.
Die jongklomp kon kwalik nog ’n oomblik langer wag om die woonbuurt se splinternuwe speelpark met klouter-apparaat, netjiese grasperk en bankies, in te wy.
Die speelpark is op een van die voorheen oop gedeeltes in die buurt wat oor die laaste amper agt maande ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Op een van die ander gedeeltes, naby die ingang van die buurt, pronk daar nou ’n omheinde basketbal/netbalbaan.
Die landskapering is deel van die Highbury-behuisingsprojek (van die provinsiale regering waaruit die buurt ontstaan het).
Die tender vir hierdie gedeelte van die behuisingsprojek is aan Afriserv toegeken, verduidelik Derek Moolman van Revive Landscaping wat op grondvlak vir Afriserv (wat die finansies hanteer) diens gedoen het.
Vaardighede aangeleer
Moolman sê hul rol is grootliks om kennis te verskaf aan die plaaslike mense wat uit die gemeenskap aangestel is.
“Sommige het gekom met geen vaardighede en ander met versteekte talente. Ons het hulle opgelei soos wat ons aangegaan het. Die hele idee is dat die mense met meer kennis wegstap wanneer ons klaar is.”
Drie subkontrakteurs is vanuit die buurt gewerf om plaaslike mans en vrouens (volgens Moolman op ’n 50/50-basis) as arbeiders by die projek te betrek.
Adriaan Erasmus (Nombulelo project and services), inwoner wat as subkontrakteur betrokke was, sê die werk het in Oktober verlede jaar begin en is op 10 Junie klaargemaak.
“Daar is vier oop gedeeltes wat nou ontwikkel is met grasperke, bome, verskeie plante en sitbankies. Die speel-apparate is op die grootste gedeelte opgerig. Daar is 120 bome geplant en 4 000 m² se gras geplant.”
Die pale, nette en balle vir die harde baan moet nog kom, maar andersins is als reg vir gebruik, sê Erasmus Erasmus kon ook van sy kennis oor tuinmaak met die inwoners deel wat in diens geneem is.
Hy sê hy gaan ook van die mense wat op die projek gewerk het en nou die nodige vaardighede het, vir een van sy eie onderneming se projekte waarmee hy binnekort in Bellville begin in diens neem.
Erasmus sê die plaaslike kontrakteurs het ’n goeie verhouding met die kontrakteur opgebou oor die maande.
“Afriserv en Revive Landscaping het ook ’n geskenkbewys gegee sodat die buurt se kinders Vrydag by die amptelike opening met eetgoed bederf kon word.”
“Daar het seker omtrent 300 kinders opgedaag. Die hele parkie het mal gegaan, die kinders het dit so geniet.”
Erasmus sê nou hoef die kinders nie meer die besige Stellenbosch-hoofverkeersweg oor te steek om by ’n speelpark uit te kom nie.
Cynthia Plaatjies (C and I Mutipurpose enterprise) wat ook as plaaslike kontrakteur betrokke was beaam daar was Vrydag baie kinders by die opening.
“Hulle kon nie wag vir die parkie om oop te wees nie.”
Plaatjies vertel die grond moes skoongemaak word voor kompos versprei en gate vir die bome en plante gegrawe kon word.
“Revive Landscaping se opsigter en sy vier manne was hier om ons so bietjie touwys te maak en te wys wat hulle eintlik verwag. Verder het ons aangegaan.”
Langs die hoofpad (Chapelstraat) het dit pik-kap gekos om gate in die harde grond te kry vir die bome, vertel sy.
“Ons is baie trots op ons harde werk,” sê Plaatjies.
Moolman sê Plaatjies het haar eie onderneming kort voor die aanvang van die projek gestig.
“Nou het sy agt maande se bewese ervaring om te wys en haar besigheid verder te vat”.
Afriserv (Revive) gaan oor die volgende 12 maande nog betrokke wees met instandhouding van die projek waarby plaaslike inwoners steeds deeltyds in diens geneem sal word.
“Ons gaan hul leer van pesbeheer, hoe om te snoei en dies meer,” sê Moolman.




