Inwoners in Van Zylstraat wag vir die Stad Kaapstad om sy belofte van chemiese en sanitasieskoonmaakdienste op hul erwe na te kom nadat riooloorstromings ’n week lank geduur het.


’n Ineengestorte rioolpyp in Tienie Meyer-verbypad het inwoners in Belrail omtrent moedeloos gehad toe erwe in onder meer Van Zylstraat vir langer as ’n week met riool oorstroom was.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het aan TygerBurger bevestig dat die oorstromings veroorsaak was deur die ineenstorting van ’n rioolpyp “as gevolg van verouderde infrastruktuur”.

“Beplande rehabilitasie van die verouderde riool-infrastruktuur sal in die volgende boekjaar begin, onderhewig aan begrotingsbeperkings,” luidens Badroodien se terugvoer.

Sandsakke sou na verwagting Maandagmiddag na inwoners in Van Zylstraat aangery word om te keer dat rioolwater hul huise binnestroom. Dit ná die riool-oorstromings al sedert die vorige Dinsdag deur inwoners aan die Stad Kaapstad gerapporteer is.

Riool in agterplaas

Een so ’n inwoner, Jeanne Christians, wat by Van Zylstraat 9 woon, vertel aan TygerBurger dat die rioolwater reeds die tuinwoonstel in haar agterplaas binnegestroom het.

“Die rioolwater het al my dogter se woonstel agter op die erf binnegestroom en haar matte het reeds skade opgedoen,” sê sy.

“Daar is reeds spanne wat op die brug in Tienie Meyer-verbypad besig is om ondergronds aan die ineengestorte rioolpyp te werk.”

Tenkwaens

Sy voeg by dat tenkwaens verlede naweek ingespan is om die rioolwater op te suig om te verhoed dat hul huise oorstroom word, maar die ingryping is van korte duur.

“Hulle was Sondag (13 Oktober) twee keer hier om water op te suig.

“Hulle was Maandag vroeg weer hier om die water op te suig, maar sodra hulle om die draai wegry, stoot die water net weer op.”

’n WhatsApp-groep genaamd Belrail COCT Complains getuig van tientalle inwoners se moedelose woede nadat hulle byna ’n week lank wag om verligting van die afvalwater te kry.

By sommige huise in Drommedarisstraat is die toilette oorstroom.

Hierdie inwoners kla dat hul toilette al dae lank nie gespoel kan word nie.

Sanitering van erwe beloof

Beide Badroodien en die Wyk 10-raadslid, Jackie Visser, het gewaarborg dat die geaffekteerde erwe chemiese skoonmaakdienste en ontsmetting sal ondergaan.

Enkeles op die Belrail COCT Complains-groep het agterna wel gekla dat hierdie dienste hulle nog nie bereik het nie.

Maar Visser het op Woensdag 16 Oktober bevestig: “Daar is reeds chemiese skoonmaakdienste in die gebied uitgevoer en skoonmaak by Van Zylstraat is ook gereël.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article