Dit is ’n reusejaar vir ’n jong aktrise van Brackenfell, en haar afrigters kan nie trotser wees nie.
Aksana Matokazi (17) is verlede week as die algehele wenner van die nasionale toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders aangewys.
Die kompetisie is van 22 tot 24 Mei by die Playhouse-teater in Somerset-Wes aangebied.
Matokazi het ook die pryse vir beste monoloog en beste improvisasie ontvang.
Matokazi gaan Suid-Afrika ook by die World Championships of Performing Arts in Los Angeles verteenwoordig nadat sy verlede jaar as beste senior by die Suid-Afrikaanse kampioenskap aangewys is.
Sy gaan in die komedie-, drama- en sangafdelings deelneem.
“Ek voel baie trots,” sê Matokazi. “Al die ekstra werk en rehearsals was worth it. Ons het almal hard gewerk om die stukke te kies,” sê sy.
Vir The Stage, waar Matokazi afgerig word, brand die vreugdevure nog hoog. Die vorige keer wat een van hul studente gewen het, was dit Jumaine Hansen, wat ook by die Hoërskool Durbanville afrigting gekry het.
“Ons is absoluut in ekstase,” sê Yolandé Rabé, hoof van The Stage.
Rabé en Siobhan Taljaard is Matokazi se afrigters.
“Ons het dit nie verwag nie.” Sy sê hierdie soort kompetisies het ’n styl waarin hulle nog nooit gevoel het hulle pas nie.
“Aksana is ’n stager in murg en been. Sy is ’n spesiale student; sy is verskriklik veelsydig. Sy kan sing, sy kan dans, sy kan act, maar wat haar nog meer spesiaal maak is dat sy ook so baie tale kan praat.”
Sy praat vlot Afrikaans, Engels en Xhosa en Rabé sê hulle het probeer om al die tale in die program in te werk. Sy het onder meer in Xhosa en Sotho gesing.
“Ek dink enigiemand wat in daai gehoor gesit het, kon sien sy’s net ’n natural born actress. Sy’s net gemaak om hierdie te doen,” sê sy.
Die 55 finaliste is deur ’n paneel beoordelaars gekies om aan die finale drie, strawwe uitdunrondes in Somerset-Wes deel te neem.
Die Top-20 het in die multimedia-ronde ’n teksvoordrag by Radio Tygerberg gelewer en het ook ’n TV-skermtoets afgelê. Die Top-8 is daarna aangewys om by die gala-aand op te tree, wat op Woensdag 24 Mei in die Playhouse-teater in Somerset-Wes plaasgevind het. Die pryswenners is aan die einde van die spoggeleentheid deur Wickus Zerwick, organiseerder van die kompetisie, aangekondig. Die Hoërskool Bellville organiseer reeds 21 jaar lank die kompetisie en het vanjaar hande met Hoërskool Parel Vallei gevat.
Ander pryswenners:
- Prys vir die wenner se onderwyser/afrigter: Siobhan Taljaard & Yolandé Rabé;
- Mees belowende kandidaat: Blyde Schoeman van die Helpmekaar Kollege;
- Multimedia-optrede: Darren Cloete van die Hoërskool Jan van Riebeeck;p
- Beste Prosa: Rico Immelman van die Hoërskool Noordheuwel;
- Beste Gedig: Somari Ryan van die Hoërskool Noordheuwel.





