Reuse wollappie kombers Kersboom bring vreugde vir bejaardes by Othello Aftreeoord

’n Inwoner, Marie Kuhn, rangskik die lappies.


Die Kerstyd het aangebreek en die Kerskoors loop hoog by die Othello- aftreeoord, waar inwoners verlede week ’n groot wollappie-Kersboom – in al die kleure van die reënboog – opgerig het.

Die drie meter hoë boom wat bejaardes self gemaak het, pronk in die hoofingangsportaal en trek aandag van heinde en verre.

Dié projek was ’n liefdestaak vir die inwoners, wat die boom met sy 700 wolblokkies binne net drie weke voltooi het.

“Tannies het gebrei en gehekel dat die naalde klap en ooms het wol aangery, tee aangedra en almal geselskap gehou. Al ons inwoners het met groot entoesiasme en lewenslus saam gewerk aan die projek met die spertyd 31 November,” sê Marile Devenish van die Othello-aftreeoord.

“Die projek is op 18 Oktober begin en ons was verras toe ons teen verlede Maandag al 900 gebreide lappies van sowat 40 vroue ontvang het – meer as genoeg vir dié boom en nog ’n kleiner een wat vandeesweek in die eetsaal opgerig gaan word. Die tema was eenvoudig – die helder kleure van Kersfees. Die boom is ook ’n simbool van eenheid en ’n manier waarop almal kon deel word van ’n groot herinnering – ’n fantastiese spanpoging.”

Nadat al die blokkies ontvang is, is dit in kleurvolgorde gerangskik. Die struktuur van die boom is met hout, ogiesdraad en vilt deur die inwoners Frikkie Kotze en Coenie van der Westhuizen gebou.

“Nadat lank gewik en geweeg is, is besluit om die lappies een vir een met hakies aan die struktuur te hang eerder as om dit aanmekaar te werk,” sê Devenish.

Die Kersboom is Donderdagaand opgerig en baie mense het reeds kom kyk.

“Kinders en kleinkinders het gekom vir foto’s by die boom en almal wat verby die boom loop kry Kerskoors. Die projek was groot pret en het baie eenheid onder ons ouer gemeenskap gebring. Ons hoop dit sal deur die seisoen vreugde aan al ons bejaardes bring, veral dié wat nie Kersfees by hul familie sal deurbring nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article