Rekord van dronkbestuur en ongeluk in Blackheath glo skoonveld, polisie sloer met antwoord

Is hy of is hy nie in hegtenis geneem nie?


Is daar iemand in hegtenis geneem, of nie?

Dít is die vrae wat gevra word ná ’n duidelik besope taxibestuurder op Sondag 31 Julie teen ’n ander motor vasgejaag het en daardie motor teen nog een vasgedruk het.

Só dronk was die bestuurder dat hy sommer agter die stuurwiel aan die slaap geraak het.

Volgens Eddie Gaffley, een van die mense teen wie die beweerde dronkbestuurder vasgejaag het, wou ander mense die bestuurder van die toneel af verwyder, maar het hulle dit verhoed.

TygerBurger het op 4 Augustus oor die voorval berig.

’n Prokureur, wat die eienaar van die derde motor verteenwoordig, het met TygerBurger kontak gemaak. Die prokureur, wat anoniem wil bly, sê hy het met skok verneem daar is geen rekord van die inhegtenisneming of die verdagte by die Mfuleni-polisie nie.

Geen rekord

“Daar is beslis iemand op die toneel in hegtenis geneem, maar ons kan nie ’n rekord daarvan vind nie. Wat het daarvan geword?” wil die prokureur weet.

TygerBurger het Gaffley om kommentaar genader: “Hoewel ons baie lank moes wag vir die polisie om op te daag, het ek met my eie oë gesien hoe die polisie die taxibestuurder in die vangwa laai. Of hy al in die hof verskyn het, weet ek nie, maar iemand is in hegtenis geneem,” sê Gaffley.

Om sy weergawe te staaf het hy aan TygerBurger ’n saaknommer en ’n afskrif van die ongeluksverslag verskaf.

Met TygerBurger se eerste versoek op 1 Augustus is geen kommentaar van die polisie ontvang nie en dit is so in die aanvanklike storie aangedui.

Ná die gesprek met die prokureur is daar weer op 13 Oktober ’n versoek om kommentaar gerig. Op 26 Oktober is nog ’n versoek gerig en hierdie keer het die Mfuleni-polisie se woordvoerder, AO November Filander gereageer, maar die inligting wat hy verskaf het was van ’n ander ongeluk op dieselfde dag in Hindle-weg. Dit was nie die ongeluk ter sprake nie.

Op 28 Oktober het die TygerBurger vir Filander in kennis gestel dat die inligting wat hy verskaf het nie oor die regte ongeluk gaan nie.

TygerBurger het ook die saaknommer en Gaffley se ongeluksverslag deurgegee.

Teen Dinsdag het Filander laat weet dat hy sal moet kyk of die ondersoekbeampte by die stasie is.

Dit was die laaste keer wat daar van die polisie gehoor is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article