Reën keer mense vas in Kraaifontein: Motors ook in oorstromings beskadig

Die strate in Scottsville is heeltemal oorstroom ná die swaar reën verlede Woensdag. Dié motoris het ’n kans gewaag om werk toe te gaan, maar baie ander motors se enjins het gestol. FOTO’S: Solly Lottering

Credit: SYSTEM

Talle mense was Donderdagoggend in hul huise vasgekeer ná erge oorstromings in dele van Kraaifontein, waar die strate plek-plek byna heuphoogte onder water was.

Paaie in Scottsville, Scottsdene, Eikendal en Belmont Park was onbegaanbaar en mense kon nie werk toe, en kinders nie skool toe gaan nie, sê ’n gemeenskapsleier, Gavin Riddles.

“Toe ons opstaan, het die water al teen ons voordeur opgedam. Die strate was heeltemal verspoel en die water was omtrent ’n halwe meter hoog. Baie motors wat probeer ry het, se enjins het net in die water gaan staan. Twee van my eie motors is beskadig,” sê hy.

“Ons moes al van 05:00 klippe aandra om bruggies te bou, sodat mense oor die pad kon stap. In Conradiestraat het ek halflyf in die water gestop om skoolkinders te gaan help, wat dit skool toe gewaag het om eksamen te gaan skryf,” sê Riddles.

Volgens Riddles dreineer die water baie stadig en die aanhoudende reën help ook nie.

Misnoeë uitgespreek

Verskeie strate in Scottsdene was ook onder water.

Honderde inwoners het hul misnoeë op die Kraailove-forum uitgespreek.

“Dis net die begin. Julie en Augustus moet nog kom. Ek kom nie eens by Verastraat uit nie, help tog net asseblief,” skryf Owen Tidoor.

Maria Esau sê: “Ons bly kla, maar daar word niks gedoen nie. Hier was verlede week ’n vragmotor, maar dis nog dieselfde en die kinders speel in die vuil water, wat nie reg is nie, en ons moet ver omloop om by die winkels uit te kom.”

Teen Donderdagmiddag het die water in Scottsville gesak tot so 30 cm in sommige strate, maar in ander was mense nog in hul huise vasgekeer.

Riddles sê stadswerkers het sonder sukses probeer om die water uit te pomp.

Die retensiedam het ook oorgeloop.

Teen Woensdagmiddag het die watervlakke begin daal. Gavind Riddles wys hoe diep die water is.

Volgens Riddles ervaar die gemeenskap al 15 jaar lank amper elke jaar die oorstromings wanneer die winter aanbreek.

“Die probleem kom al jare lank en dit is al baie met ons raadslede bespreek, maar daar blyk geen oplossing te wees nie.”

Riddles sê ’n afvaardiging van die Stad het sowat 10 jaar terug al die gebied besoek om vas te stel wat presies die probleem is en ’n verslag saam te stel, maar sedertdien het niks nog verander nie.

Dreine is toe

Riddles skryf dit toe aan ’n gebrekkige stormwaterstelsel en ook dreine wat nooit behoorlik deur kontrakteurs skoongemaak word nie.

“Baie van die dreine word ook toegemaak wanneer die paaie herseël word, dan kom kontrakteurs hier aan en kry nie dié dreine nie. Dit is asof daar geen samehorigheid in die Stad se verskillende departemente is nie.”

Riddles sê inwoners se voertuie word elke jaar deur die water beskadig.

“In vier jaar is my twee motors al twee keer deur die water beskadig. Ons is moerig!

“Vir ons gemeenskap is dit elke jaar dieselfde ding; dis nooit ’n verrassing nie en nooit lekker nie.”

TygerBurger het Brenda Hansen, raadslid, genader om kommentaar, maar het teen druktyd nog geen antwoord ontvang nie.

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike beweeglikheid van die Stad, het aan TygerBurger gesê hulpbronne is in hierdie gebiede ontplooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article