Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images


Deurdringende reën wat reeds sedert verlede week oor die Kaapse skiereiland neersak, het nie net tot grootskaalse oorstromings gelei nie, maar dit het ook gelei tot ’n skaarste in bloedvoorraad.

Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) het ’n beroep op skenkers gedoen om bloed te skenk, aangesien daar teen Maandag slegs twee dae se bloed oor was.

Marike Carli van die WKB sê die winter het ’n groot invloed op voorraad.

“Daar is ’n kritieke tekort in die O- en B-bloedgroepe, met slegs ’n tweedae-voorraad. Die A-positiewe bloedvoorraad is ook onder druk aangesien daar slegs ’n driedae-voorraad is. WKB streef daarna om ’n bloedvoorraad van vyf dae te handhaaf. Dis nie altyd lekker om in die Kaapse winter uit te gaan nie, en met die voortdurende storms in Kaapstad sien ons die impak daarvan op die bloedvoorraad. Heelwat bloedskenkers ly gedurende hierdie tyd ook aan verkoue en griep en kan dus nie bloed skenk nie – tot ná opklaring van simptome,” sê Carli.

Besoek www.wcbs.org.za vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind.

Intussen is opruimingspanne van die Stad Kaapstad besig om verskeie oorstroomde paaie in TygerBurger se verspreidingsgebiede op te ruim.

In Bishop Lavis, Belhar en Parow is die plaaslike klinieke ook verlede week deur reën geaffekteer en was dit vir ’n rukkie gesluit. Nadat die water opgedroog het, het dinge weer na normaal teruggekeer.

In Ravensmead is die elektrisiteits-netwerk beskadig, wat tot probleme met die ligte gelei het. Dit is ook opgelos en die elektrisiteitstoevoer is weer herstel.

Shimoney Regter, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het by navraag gesê daar was nie enige verdere probleme nie. “Ons is bly daar was nie verdere skade nie en alle fasiliteite is oop vir die publiek. Ons hou die situasie deurlopend dop en is op ’n gereedheidsgrondslag sóú daar weer probleme wees,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article