Die rapper Dugan Boer het met ’n ander kunstenaar saamgespan om gqom-gospelmusiek te maak.


’n Gospel-rapper van Ravensmead beoog om die manier hoe gospelmusiek klink, te verander en het met ’n gqom-kunstenaar saamgespan om dit reg te kry.

Dugan Boer, wat as D-flow in musiekkringe bekendstaan, het met Gstone Chaivisa saamgespan om nuwe musiek te skep. “Ons het aan die idee gekom om saam aan ’n album te werk, omdat baie jongmense na gqom luister en ons moet die jongmense na die Here toe lok. Die meeste mense ken my as ’n rapper, maar ek wil ook ander genres uittoets om meer mense tot bekering te bring,” sê Boer.

Volgens Boer het hulle die album in sy tuisstudio opgeneem met Gstone wat die ritmes geskep het en hul albei wat rymklets. “Alles het binne drie weke bymekaar gekom en ons wil dit eersdaags op alle digitale platforms beskikbaar stel. Ek glo baie jongmense gaan die eindproduk geniet en so gaan hulle ook luister na die woord van die Here. Jongmense is skaam om gospel hard voor hul vriende te speel, maar ek glo hulle gaan sommer die klankstelsels oopdraai as hulle eers ons musiek gehoor het,” sê hy.

Hul planne vir die jaar is nog nie klaar nie en daar kom nog musiek later vanjaar, maar vir nou gaan die musiekmakers eers daarop fokus om musiekvideo’s vir die nuwe musiek uit te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article