’n Radio-omroeper van Ravensmead het die afgelope naweek sy boek oor sy Covid-19-ervaring bekendgestel.
Dennis Francis, wat vir 22 jaar reeds ’n gebedsprogram op Radio Tygerberg aanbied, was een van duisende mense wat in die hospitaal beland het met Covid-19. In sy boek vertel hy van sy stryd.
“Ek was aan die begin van die pandemie uiters versigtig. By my kerk het ek ook gemeentelede aangemoedig om versigtig te wees, dus weet ek nie waar ek die virus opgedoen het nie. Ek het skielik net begin swaar asemhaal,” sê hy.
Volgens Francis is hy eers na die Louis Leipoldt-hospitaal, waarna hy na die Panorama-hospitaal oorgeplaas is.
“Dit was eintlik ’n bedekte seën dat ek na Panorama oorgeskuif het, want een van die verpleërs het my geken. Die dokters het gesê ek sal minstens drie maande in die hospitaal wees en ek sou aan ’n ventilator gekoppel wees. Ek was nie lank in die hospitaal nie, toe is ek ontslaan.
“Die dokters was geskok dat ek so vinnig gesond geword het. Ek hoop mense kan die boek lees en besef dat die genade van die Here genoeg is. Ek hoop die boek kan ander mense inspireer om meer op die Here te vertrou,” sê Francis.
Op die vraag oor hoe die gedagte vir die boek ontstaan het, sê hy die dag toe hy ontslaan is, het ’n dokter gesê “dit is ’n storie vir ’n boek”.
Om die boek, The Grace of God Unfolded, te bestel, bel Francis by 082 786 4715.





