Die Protea-tehuis in Goodwood is dankbaar vir die gemeenskap se betrokkenheid by hul veiling.


Op Dinsdag 6 Desember het die Protea-tehuis in Goodwood ’n veiling vol pret, wedywering en boonop ’n wins vir die tehuis gehou.

Om 08:00, toe mense op die webtuiste op die 40 artikels kon begin bie, was daar ’n opgewondenheid totdat die laaste bod op 8 Desember om 12:40 op die laaste bieër toegeslaan is.

Op sommige van die artikels was dit ’n behoorlike wedywering tussen bieërs om die bod op hulle toegeslaan te kry.

“Ons wil net baie dankie sê aan almal wat ons ondersteun het,” sê Anne-Marie Jordaan, organiseerder van die veiling.

Die artikel wat die meeste behaal het, was twee gemakstoele met ’n Coricraft-leerkussing, wat vir R2 700 verkoop is.

R30 000 ryker

Daar was van nuwe tot antieke artikels wat deur maatskappye en individue geskenk is.

“Ons het staatgemaak op die breër gemeenskap om betrokke te raak,” sê Jordaan.

Die laaikassie, wat vir R2 300 verkoop is, was baie verrassend, want die bieër, Muraad Tajoodien, het aangehou wedywer totdat die bod op hom toegeslaan is. Die vraag op almal se lippe was wat dié laaikassie vir die bieër kon beteken?

“Ons het R30 000 gemaak met die verkoop van die artikels en alles was skoon wins, omdat ons alles as skenkings ontvang het,” sê Jordaan.

Dankie

Die Protea-tehuis se bestuur wil graag die volgende skenkers bedank, “want sonder hul bydrae sou hierdie veiling nooit so ’n groot sukses gewees het nie”:

Freda Poley, A&C, Priscilla Armstrong, die Tajoodien-familie, Hein Engelbrecht, die De Wet-familie, Picture-Sque-framers, Lynette Barnes, Chris Coetzee, Lilian van Wyk, Lizzy Botha, Meyer & Ferreira Meubels, die Van der Westhuizen-familie, Simone Franklin, VW Barons N1 City, Bidvest McCarthy Landrover N1 City, Christel Ruby, Sanna van Rensburg, Sannie Botha, Johan Groenewald, WP Caterers, Pierre de Wit, Babsie Wheal, Dina Burger, Dean Higgens, Pumla Ndomile, Byers Sekuriteit, World Estates, Herman Kuhn, Brand Coetzee en Amanda de Wet.

Verder wil hulle ook hul dank betuig aan Casper en Christa van Bidders Choice, wat die veiling vir hulle as ’n liefdadigheidsprojek behartig het.

“Jul professionele dienste sal altyd onthou word,” sê Jordaan.

Alles ten bate van inwoners

Jordaan sê alle geld sal aangewend word ten bate van die inwoners van Protea-tehuis.

Alle artikels, buiten drie, is verkoop. ’n babakarstoeltjie, twee potloodskilderye en ’n driedimensionele skildery is nog te koop.

Enigiemand wat dalk sou belangstel om ’n aanbod op dié artikels te maak, kan Anne-Marie by 064 789 5348 bel.

“Ons gaan beslis volgende jaar weer veiling hou.”

Die tehuis beplan om die veiling in Julie 2023 te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article