Inwoners, kerkgangers en skoolleerders in Oakdale, Bellville, vernaam Sindeystraat, kla dat beweerde sekswerkers al hoe meer toenaderings en onbetaamlike gedrag op straat kwytraak.FOTO: WhatsApp-groep


Leerders en ouers van skole in die Oakdale-omgewing, veral Sidneystraat, word die afgelope ruk glo onderwerp aan beweerde sekswerkers wat hulself op straat onbetaamlik ontbloot.

Dit is wat deur inwoners en buurtwaglede gerapporteer is op ’n WhatsApp-gemeenskapsgroep, waarop weggooi-dwelmspuitnaalde en ander onwettige aktiwiteite aangemeld word.

Volgens Yollanda Fritz, ondervoorsitter van die Oakdale-buurtwag, het sy onder meer klagtes van ’n pastoor by die Baruch-kerk ontvang.

“Hulle het my ingelig dat die ‘sekswerkers’ voor die skool selfs probeer om met die kinders tydens hul pouses kontak te maak. Die kerk skakel wetstoepassing, maar soos ons weet, teen die tyd dat hulle daar aankom (as hulle wel kom), skuif die mense na ander plekke.

“Dit is regtig kommerwekkend omdat dit minderjarige kinders is aan wie hulle alles wys (flash),” meld Fritz.

In ’n stemnota op dieselfde groep meld nóg ’n inwoner dat die beweerde sekswerkers hulle aan mense in die omgewing, soos kerkgangers en skoolkinders, ontbloot. “Hierdie is die soort mense wat alles wys aan dié wat verbyloop – kinders, moeders van die kleuterskool en kerkgangers. Ek weet nie wanneer dit end gaan kry nie, maar dit moet summier gestop word. Wetstoepassing is nutteloos – hulle doen niks aan die saak nie.

“Eendag gaan ’n bom nog bars, want die inwoners is raadop oor hierdie probleme in die gebied,” maan die inwoner.

Wetstoepassing

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid van Stad Kaapstad, meen die uitdaging vir enige wetstoepassingsagentskap is “dat jy moet bewys dat die persoon besig is met uitlokking vir die doel van prostitusie”.

Hy sê in die gevalle wat verwys word, het die inwoner gebel om sewe mense te rapporteer wat op die hoek staan in klere wat die inwoner as onvanpas beskou het.

“Wetstoepassing het ondersoek ingestel en het geen bewyse van prostitusie gevind nie. Wetstoepassing hanteer ’n groot aantal klagtes rakende prostitusie in die Bellville-gebied en die Stad het bykomende lede na die sakekern ontplooi,” aldus Smith.

Inwoners kan 021 480 7700 skakel om prostitusie aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article