Van Februarie verlede jaar is verskeie pragtige tuintjies – veral langs Amandelweg, een van die besige deurpaaie in Kuilsrivier – geskep.
Die vier hoeke by die kruising met Kerkstraat was die eerstes wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan het.
Verskeie inwoners het by geleentheid hand bygesit, maar dis veral ’n groep vroue en hul helpers wat gereeld betrokke was.
Aanvanklik is die inisiatief beskou as deel van die Kuilsrivier Community Forum wat deur Wouter de Vos (nou raadslid vir Wyk 11) begin is met ’n Facebookblad om die gemeenskap betrokke te kry om ’n verbetering in hul omgewing teweeg te bring.
Teen April verlede jaar is sewe tuintjies reeds aangelê.
’n Loodskomitee is op 14 April op ’n vergadering van inwoners verkies in ’n stap om die forum te formaliseer en ’n organisasie sonder winsbejag te stig, maar dit het nie juis verder gevorder nie.
De Vos, wat aanvanklik die voorsitter was, is in November as wyksraadslid verkies.
Hy het verlede week gesê as raadslid sal dit onvanpas wees vir hom om nog direk betrokke te wees.
Hy het wel waardering vir die werk wat die groepie vrywillige inwoners en helpers doen wat gekies het om as die “Kuils River Beautification”-projek voort te gaan, sê De Vos.
Lizette Wilson, wat van die begin af betrokke was by die aanlê van die tuintjies, het voorheen die hoop uitgespreek dat meer en meer inwoners betrokke sal raak sodat Kuilsrivier teen 2023, met die dorp se 125ste herdenking, as dorp van die jaar aangewys kan word.
Wilson sê dis egter ’n stryd om die projek aan die gang te hou, selfs al is daar van Kuilsrivier se inwoners wat hulle getrou ondersteun.
Hulle is meestal ’n groepie van vier vroue en twee mans wat hul tyd vrywillig opoffer, en ’n paar werkers wat betaling ontvang.
“Ongelukkig was ons uitgawes – hoofsaaklik om ons werkers te betaal – meer as ons inkomste.”
Deur die somer is water, wat geskenk is, aangery.
“Selfs vetplante het een maal per week water nodig.”
Wilson sê hulle wil ’n pleidooi lewer aan belanghebbendes – hetsy inwoners, sakeondernemings, instansies of skole – “om te kom met voorstelle, raad, planne en nuwe inisiatiewe”.
Sy sê vrae om te oorweeg is of só ’n projek in Kuilsrivier se belang is, wie dit gaan ondersteun of bereid is om die voortou te neem en te help om ’n organisasie sonder winsbejag op die been te bring.
Daar is reeds ’n basiese grondwet, maar posisies wat gevul sal moet word, is dié van voorsitter, finansiële beampte en sekretaris, sê Wilson.
- Skakel Lizette Wilson of stuur ’n Whatsapp aan haar by 083 284 6959.





