Die seniors het Donderdag partytjie gehou. FOTO’S: Lizzie Photography


Daar is gedans en gesing, opgetof en feesgevier toe Bok Radio se Hoop-projek Donderdag die Ruyterwacht-seniorsorgsentrum besoek het.

Met dié projek, die grootste nóg wat die liefdadigheidsorganisasie aangebied het, is ’n haarsalon vir seniors geopen en R50 000 geskenk om aan seniors kospakkies te voorsien vir die tydperk wat die sorgsentrum in die feestyd toe sal wees.

Die dagsentrum sorg vir 235 senior burgers in die omgewing, wat op net ’n karige Sassa-pensioen oorleef.

“Die seniors word daagliks na die sentrum aangery, waar die dag met skriflesing en gebed begin. Daarna word aktiwiteite soos line dancing en kuns aangebied, gevolg deur middagete, wat vir baie van die bejaardes die eerste en enigste maaltyd van die dag is. Daar is ook ’n biblioteek en ’n koor wat jou tot trane in sing,” sê Wilinda Ford, projekbestuurder by Hoop.

Met die nuwe haarsalon sal daar nou ook hare gesny en geset word, en voete en hande gevryf word – ’n lafenis wat die seniors nie kan bekostig nie.

Wilinda Ford en Sunel Beeselaar, wat die Hoop Trust administreer, oorhandig ’n tjek vir R50 000.

Donderdag is partytjie gehou om die feesseisoen in te lui.

Die oues van dae is vermaak met musiek deur Frikkie Joubert. Hoop se span het ’n skreeusnaakse vertolking van die Grafsteensangers se Trein na Pretoria opgevoer.

Daarna is die seniors bederf met hul gunstelinggereg, soos versoek deur hulle – macaroni-en-kaas met spek!

“My hart het gesmelt toe ek die versoek hoor en ons het seker gemaak daar is meer spek as macaroni-en-kaas. Vir nagereg was daar basaarpoeding en elkeen het ook pragtige kolwyntjie en peuselhappies ontvang ” sê Ford.

“Soveel borge het aan boord gekom en hande gevat vir hierdie reuseprojek. En aan hulle sê ons dankie uit die diepte van ons harte. Ons is dankbaar en bevoorreg dat ons ’n verskil kan maak en hoop kan bring aan die seniors.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article