Een van die dae is dit weer Paasfees en dan begin sekere gedeeltes van die bevolking weer verskil oor wie hou van ingelegde vis of nie.
Sover my kennis strek, is dit grotendeels die bruin bevolking van Suid-Afrika wat kerrievis tradisioneel oor Paasnaweek eet.
Die dis, ook kerrievis genoem, het sy ontstaan te danke aan slawe wat na die Kaap gebring is. Dit is hulle wat, voor die koms van yskaste, besluit het om vis in te lê sodat dit langer kon hou. Hierdie gereg het met ’n kombinasie van Oosterse speserye ’n absolute lekkerny geword.
Min mense ken die ware geskiedenis, maar die meeste kenners is dit eens dat die kerrievis-etery op Goeie Vrydag van die Rooms-Katolieke kerk kom, maar oor die jare so ver-Kaaps het dat dit oor geloofsgrense heen strek.
Omdat Suid-Afrika, in sy wese, ’n land van “inkommers” en “rondtrekkers” is, het hierdie wyse van vis eet tot aan die uithoeke van die land versprei.
Ek, wat van Namakwaland af kom, ken niks anders as kerrievis vir Paasnaweek nie, dus kan ek dalk met redelike sekerheid sê kerrievis het die hele diaspora van die Kaap bereik.
Dit beteken nie kerrievis is universeel aanvaarbaar nie – selfs in sekere huishoudings waar kerrievis tradisie is, trek sommige lede van die huishouding hul neuse op. Dit is duidelik as ’n mens elke jaar voor Paasnaweek op sosiale media na mense se inskrywings kyk: “Nee, sies! Niks kerrievis in my huis nie!” of “Ek gaan nie heeldag met geel vingers rondloop nie!”
Dan kom die kerrievis-eters met: “Jy weet nie wat jy mis nie.” of “Moenie jou tradisie weggooi nie.”
Ná Paasnaweek rus die strydende partye weer tot volgende jaar, dieselfde tyd.
Iets anders wat gewoonlik ook die kop in aanloop tot Paasnaweek uitsteek, is die prys van vis. Dit is amper asof die visverkopers glo hulle moet die hele jaar se wins op een slag maak. ’n Snoek wat gewoonlik R150 kos, se prys skiet sommer op na R250. Ek het dit nog nie self gesien nie, maar ek het gehoor van stokvis vir R350. Jy weet seker wat jy kan maak met ’n R350 se vis, om wyle Tolla aan te haal.
Ek het onlangs ’n bordjie langs Stellenbosch Arterial gesien waar een ou sy snoek as “Sexy Snoek” adverteer. Ek wou nie eens vra hoe hy daarop besluit het nie, maar ’n vis moet baie “sexy” wees voor ek R350 daarvoor gaan betaal.
Dan is daar mos die verkopers wat langs die pad staan en hul arms so wyd uitstrek om te wys hoe groot die vis is. As ek dit sien, dink ek soms hulle verkoop haaie.
Om terug te keer na die kerrievis – nie alle kerrievis smaak dieselfde nie. Hoewel daar basiese bestanddele soos vis (so vars as moontlik), uie (baie), peperkorrels, naeltjies en lourierblare is, het mense oor die jare hul resepte vervolmaak.
Party mense sweer hul resepte het reeds saam met hul voorvaarders uit die Ooste hier aangekom en dit is van geslag tot geslag oorgedra. Ander weer het oor die jare hul eie weergawes van bestaande resepte gemaak en hou daarby.
Hoewel ek enige kerrievis (behalwe uit ’n blikkie) eet, verkies ek maar snoek. Dit is amper asof snoek die oorspronklike bestanddeel is en die ander vis gebruik is toe hulle nie snoek in die hande kon kry nie. Dit traak my nie of historici my verkeerd wil bewys nie, ek volstaan by my oortuiging dat snoek die oorspronklike vis is waarmee kerrievis gemaak word.
As jy nog nie kerrievis met ’n hot cross bun geproe het nie, verstout jouself dié Paasnaweek.




