Die Parow-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê hy verwelkom die sloping van ’n probleem-gebou in Glenlily, Parow – een van talle op die Stad Kaapstad se lys probleem-geboue.

Deon Maneveld, die GPF-voorsitter, sê die sloping is ’n positiewe uitkoms ná baie ure se harde werk deur verskeie rolspelers, insluitend die polisie, die Stad se wetstoepassingseenheid, die raadslid, die buurtwag en die gemeenskap.

“Dit bewys weer eens dat positiewe uitslae deur volgehoue en gesamentlike pogings bereik kan word,” sê Maneveld.

Hy sê hy erken so ’n proses is stadig, maar sê ’n mens ook moet in ag neem dat wettige prosesse in sulke gevalle gevolg moet word ten einde ’n suksesvolle uitkoms te bewerkstellig.

“As ’n mens nie die proses volg nie, kan jy jou tyd en harde werk mors. Soms duur die proses ongelukkig etlike jare.”

Maneveld voeg by dat die gemeenskap in so ’n geval ’n kernrol speel en dat die inwoners se wilskrag nie onderskat moet word nie – “selfs al neem dit maande of jare”.

’n Inwoner wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê inwoners kon hul oë nie glo toe werkers verlede week die huis begin afbreek nie.

Sy beweer bedrywighede by die huis het die afgelope vyf jaar tot allerlei soorte drama gelei, insluitend besoeke deur die polisie. Inwoners beweer dwelms is hier verkoop en die huis is ook deur sekswerkers gebruik.

Shakir Smith, voorsitter van die buurtwag in Parow-Wes, sê die betrokke huis in Eerstelaan was etlike jare ’n probleem vir die gemeenskap en die sloping daarvan sal verligting vir inwoners bring.

Hy sê die buurtwag en lede van die plaaslike Parow-Wes-belastingbetalersvereniging probeer al lank om die huis te laat sloop of verkoop te kry.

Die huiseienaar is glo jare gelede oorlede.

Ons as buurtwag het e-posse na verskeie departemente gestuur, insluitend die wetstoepassingsafdeling wat klopjagte daar sou uitvoer. Ons het by die plaaslike polisie sowel as die metro-polisie gekla, wat af en toe reageer het, sê Smith.

“Die buurtwag het ook probeer om sy deel te doen.”

Smith sê elke inwoner wat ’n klagte by die Stad oor die gebou ingedien het, ’n brief geskryf het of selfs net hul stem laat hoor het, moet bedank word.

Maneveld moedig inwoners aan om probleem-geboue by die Stad aan te meld deur gebruik te maak van die C3-stelsel.

“Lig ook buurtwag en polisie in.” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article