Met die eerste boek uit sy pen wil ’n prediker van Fisantekraal nie net mense na God lei nie, maar ook insig bied in hoe God as pottebakker in mense se lewens aanhou werk.

Die Christelike boek The secret place is Desmond Barry se lewensverhaal as jong seun wat in moeilike omstandighede grootgeword het en hoe hy hom later bekeer het. Dit is op Saterdag 3 Augustus met ’n spesiale geleentheid in Fisantekraal bekendgestel.

Barry (43), prediker by die House of Glory Apostolic Mission, het 19 jaar gelede dié “gesonde en groeiende kerk sonder geld begin”.

Hy dien in die raad van organisasies soos die Fisantekraal Centre for Development en het ook die Fisantekraal Pastor’s Prayer Group gestig.

“Ek het nooit gedink ek sou eendag ’n skrywer word nie. Ek was ’n baie skaam laaitie. Ek kom uit ’n roekelose lewe van drankmisbruik, het al by die dood omgedraai in my laat jeugjare en het soveel noue ontkomings gehad,” sê hy.

Onder invloed van drank

Barry het in Scottsdene in Kraaifontein grootgeword – “ ’n laaitie van die flats”.

“Ek het gesien hoe baie van my portuur in hul tienerjare sterf, in die tronk beland of aan dwelms verslaaf raak, maar ek is bly my oë het op die regte tyd oopgegaan – nie deur myself nie, maar dis deur God se genade dat ek is wat ek vandag is,” sê hy.

Ná matriek het hy “maar hier en daar gewerk”, maar was meestal in verkope.

“Ek het in die skemer van ’n Sondagmiddag, ongeveer 17 jaar gelede, onder die invloed van drank vir Jesus aangeneem. Ek het êrens heen gestap, en ’n hoorbare stem het vir my gesê jy moet jou bekeer.

“Ek het onmiddellik gereageer en vir my vriend wat saam met my gestap het, gesê ‘Ek moet my bekeer’. Ek vir die eerste keer God hoor praat, asook op so ’n manier, en geweet dit was Hy. Ek het huis toe gegaan nadat ek my vriend huis toe geneem het, en vir my pa gesê ek wil my hart vir die Here gee. Hy was effens onseker, omdat hy geweet het ek was die hele naweek al dronk, en het gesê ek moet kniel en het saam met my gebid.”

Swaar las

“Daai dag toe ek opstaan ná die gebed, het dit gevoel ’n swaar las is van my afgehaal. Ek het net geweet, ek het Jesus ontmoet. My lewe was van daai Sondag nooit weer dieselfde nie. Ek het nooit weer na die ou lewe teruggekeer nie. Van vroeg af in my nuwe lewe het ek ’n groot liefde vir die Bybel ontwikkel; nooit het ek geweet dat ek vandag ’n prediker van God se Woord sou wees nie,” sê hy.

Barry het daarna onder meer ’n diploma in teologie en gevorderde sertifikaat in berading behaal.

“My boek gaan oor hoe God mense maak – die onortodokse manier. Waar baie glo dat God jou op een dag gemaak het en dit is dit, vat ek die leser op ’n reis waarin ons van tyd tot tyd gemaak word om te wees wie Hy ons bestem het om te wees.

“My boek is ’n openbaring van my verhouding met God en oor ’n persoonlike ondervinding van my eie lewe – met die analogie dié van ’n pottebakker en klei. God is die pottebakker en die mens wat Hy maak, die klei,” sê hy.Die titel van die boek beteken eintlik Place of making. Ek vergelyk dit met ’n saad diep in die aarde, en hoe God ons in die geheim maak. Niemand sien dit, en ons weet dit soms nie, totdat ons ontwaak tot die realiteit dat Hy besig is om iets in ons te doen.”

Boektoer

Hy gaan binnekort ’n boektoer onderneem waartydens hy meer oor die boodskap van sy boek gaan praat. “Ek wil my eie storie met mense deel. Ek is vasberade om ’n waardevolle bydrae tot mense se lewens te maak,” sê hy.

Hy beplan om veral na ander kerke toe te gaan om ander predikers te ondersteun, die jeug te motiveer, konferensies te hou, asook skole met baie uitdagings te besoek.

Sy eerste afspraak is in sy hometown, Scottsdene in Kraaifontein, in die eerste week van September, waar hy by die Full Gospel Scottsdene gaan preek.

“Dit is die heel eerste kerk waarheen ek net ná my bekering gegaan het om geestelik gevoed te word. Vandag is die kerk onder die leierskap van past. Anna-Marie Jacobs.

Ek het dalk nog nie so baie in die lewe bereik nie, maar ek het ’n storie van hoop om te vertel. Ek is baie positief oor die boek en die impak wat dit sal maak,” sê hy.

Barry het ’n passie om mense te help om uitdagings in die lewe te oorkom en in oorwinning te leef. “Ek en my vrou, Michell, my beste vriend, het veral ’n hart om mense se huwelik te verryk en te sien hoe mense herstel word,” sê hy.

Kontak hom by desmondjbarry@gmail.com vir meer inligting oor die boektoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article