In die Lasarus Stoor is (van links) Ronelle Steenekamp, Ettienne Pio, Gabriel Ilunga, André le Roux, Jean-Pierre Luyuka, Ruth Luyuka en Basil May.FOTO: Desirée rorke


Waar eens net dooie grond en rommel was, staan nou netjiese groentebeddings en vrugtebome tussen die ou spore by die Brackenfell-treinstasie – met struike en kleurvolle blomme langs die platgetrapte heining.

Dié groente-en-vrugtetuin wat deel vorm van Lasarus Stoor, ’n nie-winsgewende organisasie, het verlede week sy eerste opbrengs gelewer wat deur lede van die Kanonkop-Voortrekkers geoes is.

Die unieke projek is in 2017 deur Jesus in Aksie Bedieninge van stapel gestuur om nuwe hoop te bring vir die sowat 100 haweloses wat in die omgewing van die stasie bly.

“Ons het twee doelwitte voor oë: ’n strewe na eenheid oor alle grense, en praktiese liefde,” sê die stigter, Ettienne Pio.

Lasarus Stoor voorsien hawelose mense van voedsel, geestelike ondersteuning en ander hulpmiddels om hul lewens te herbou.

Op Donderdae en Sondae word warm etes voorgesit en Sondae word daar ook kerk gehou.

Die voedselstoor is in die ou Transnet-goederestoor op die stasie en is met die hulp van plaaslike besighede in ’n moderne ruimte omskep.

Pio sê die organisasie is geïnspireer deur sy ontmoeting met ’n hawelose man by die stasie in 2010.

“Ek het vir Dawid onder ’n boom langs die stasie ontmoet waar ons een Sondag ’n eenmalige kerkdiens vir die haweloses gehou het.

“Dawid het vir my gesê ‘jy kan my nie bekeer nie, net die Here kan’.

“Van toe af het ons besluit om gereeld die stasie te besoek in bediening,” vertel Pio.

Nes baie ander wat vlug van bendegeweld, het Dawid op straat beland omdat hy te bang was om in Wesbank te bly waar hy grootgeword het.

Hy is tragies oorlede toe hy ’n paar jaar gelede by die Brackenfell-stasie vermoor is vir ’n klein radio wat hy by hom gedra het.

Pio sê die groentetuine is aangeplant ter ondersteuning van die organisasie.

“By die stoor word etes en sop gemaak, asook klere en voedselskenkings gestoor vir die sowat 300 voedselpakkies wat elke maand reg oor die skiereiland aan kerke versprei word vir mense in nood. 

“Op Sondagoggende word die gees gevoed deur die Woord te bedien. Die kerk het só gegroei dat daar nou ook ’n kinderkerk en jeugkerk is,” sê Pio.

Daarbenewens bied die organisasie ’n tweede kans vir dié wat hul lewens wil herbou.

“Haweloosheid spruit uit verslawing, geestesversteurdheid en misdadigheid –komplekse aspekte wat getakel moet word om mense van die straat af te kry,” sê hy.

Die projek bied ook deur sy rehabilitasieprogram uitkoms aan verslaafdes. 

“In ’n vyf weke lange rehabilitasieprogram op ons terrein in Klawer word verslaafdes op die plaas besig gehou met take terwyl hulle deur beraders van Atlantis Substance Abuse Support (Asap) ondersteun word. Só het ons al vier mense van die straat af gekry, wat vandag ’n eie tuiste en werk het.”

Pio sê daar word ook geleentheid gegun aan haweloses om in die groentetuine te werk in ruil vir varsprodukte.

Basil May, wat in Mitchells Plain woon, kom elke Sondag al die pad na Brackenfell – met vier busstoppe tussenin – om die kerkdiens by te woon.

Vir hom is dit die broederliefde en samesyn wat sy lewe verander het.

“Saam kan ons Sondae die woord ontvang en om ’n tafel sit en praat oor wat dit in ons lewe beteken; liggaam en siel word hier gevoed,” sê hy.

Hy beoog om spoedig skou-asters in die tuine aan te plant.

Past. Gabriel Ilunga, wat sedert 2010 by Jesus in Aksie betrokke is, lei die bediening by die kerk.

“Dit is so goed om by ons broers en susters te wees wat soveel uitdagings in die gesig staar. Dit is ons taak om hul lewens te verbeter om sodoende te transformeer,” sê hy. 

  • Bel Ettienne Pio by 061 520 1883 of Ronelle Steenekamp by 082 465 6644 om by die projek betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article