Foto ter illustrasie. Foto: André Damons


Die polisiebeampte wat op 26 Junie in ’n rooftog in sy huis geskiet is, het aan sy wonde beswyk.

Konst. Unathi Makananda (32), verbonde aan die Kleinvlei-polisie, is geskiet in wat vermoedelik ’n huisroof was.

Ná die voorval is hy eers in die Tygerberg-hospitaal opgeneem, maar toe later na die Mediclinic Kuilsrivier oorgeplaas, waar hy verlede Dinsdag oorlede is.

Tydens die skietvoorval het vier gewapende mans omstreeks 04:00 by Makananda se huis opgedaag onder die voorwendsel dat hulle ’n plek soek om bier te koop.

Hulle het die deur oopgedwing en Makananda, sy meisie en hul gaste met ’n vuurwapen aangehou, waarna hulle persoonlike besittings soos ’n selfoon en ’n platskermtelevisiestel gebuit het.

Voor hulle op die vlug geslaan het, het hulle Makananda in die heup geskiet.

’n Poging om Makananda se motor te steel, het misluk omdat hulle nie die motor aan die gang kon kry nie.

Die moordenaars het ook na Makananda se vuurwapen gesoek, maar hy het nie een by hom gehad nie.

Past. Hubert Kemp, voorsitter van die Kleinvlei-gemeenskapspolisiëringsforum (KGPF), sê die gemeenskap is geruk deur Makananda se dood.

“Hy was ’n baie goeie polisieman. Die gemeenskap was lief vir hom en hy vir hulle. Oral waar hy gegaan het, het hy mense met respek behandel. Of dit nou sy kollegas of die gemeenskap was, hy was ’n man van inbors,” sê Kemp.

Kemp sê hulle veroordeel die moord ten sterkste. “Ons wil nie hê mense moet vermoor word nie, maar wanneer ’n polisieman vermoor word, raak dit ’n ander saak,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article