Die polisie in Parow ondersoek ’n saak van poging tot moord ná die onlangse aanval op ’n polisiekaptein hier.
Kol. Deidré Engelbrecht, stasiebevelvoerder, het aan TygerBurger die voorval bevestig.
“Die polisiekaptein het van die werk af teruggekeer, waarna hy in sy private voertuig, ’n VW Polo, geklim het om sy dogter te gaan haal. Twee onbekende mans het die voertuig genader en drie skote afgevuur. Die slagoffer is in die gesig en arm raakgeskiet,” sê Engelbrecht.
Die voorval het op Vrydag 22 Maart omstreeks 23:45 op die hoek van Balfourweg- en Vierdelaan in Churchill Estate, Parow plaasgevind.
’n Saak van poging tot moord en motorkaping is geopen en die ondersoek duur voort, sê Engelbrecht.
Die Life Emergency Medical Services (EMS) het ook daaroor gerapporteer. Volgens dié nooddiens is een pasiënt met kritieke beserings behandel.





