Pasop vir die wolwe in skaapsklere – hetsy op jou voorstoep, op jou foon of aanlyn – swendelaars en skelms kan orals opduik.
AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê een van die voortslepende uitdagings plaaslik, waar spesifiek ouer mense geteiken word, is skelms wat voorgee om beamptes van die Stad Kaapstad te wees om sodoende toegang tot wonings te kry.
Die “beamptes” sal moontlik vra om die kragproppe of elektrisiteitsmeter na te gaan.
“Wanneer hulle toegang tot ’n huis het, sal die een die huiseienaar besig hou terwyl die ander een sal kyk vir items soos selfone of skootrekenaars, en dan daarmee verdwyn.”
Beukes sê hulle wil ’n beroep doen op inwoners om onder geen omstandighede hierdie ‘’beamptes” in hul huis in te laat nie. Skakel dadelik die Kuilsrivier-polisie by 021 900 2800 of 086 00 10111.
Die Kuilsrivier-polisie sien ’n toename in bedrogsake.
Beukes sê die skelms sal voorgee dat hulle van jou bank af bel.
“Hulle sal jou vertel dat jy die slagoffer van bedrog was en dat die transaksie omgekeer (reverse) moet word.
“As jy die transaksie dan op jou bank se toepassing (app) goedkeur, keur jy eintlik ’n betaling goed wat deur die bedrieër gemaak is,” sê sy.
“Jy sal nooit oor die foon of op e-pos gevra word om goedkeuring vir ’n transaksie op ’n banktoepassing te gee nie. Die bank sal ook nie vra vir enige sensitiewe inligting of kaartbesonderhede nie, insluitend wagwoorde (PIN) of eenmalige transaksienommers (OTP) nie.”
Nog ’n plek waar skelms blykbaar gereeld opduik is Facebook Marketplace.
Beukes sê mense wat adverteer of reageer op advertensies op Facebook Marketplace moenie items oorhandig alvorens die geld in hul rekening wys nie, of ’n deposito betaal nie.
“ ’n SMS is nie (voldoende) bewys van betaling nie. Moet onder geen omstandighede die adverteerder (of koper) op ’n onveilige plek ontmoet nie.”
Beukes sê aanlyn beleggingskemas en swendelary blyk toe te neem op sosialemediaplatforms soos Facebook, WhatsApp, Telegram, Instagram en TikTok en mense verloor baie geld.
“Doen deeglik navorsing voor jy jou geld belê. Belê eerder by goedgekeurde finansiële instellings,” raai sy aan.
Voertuie
Die Kuilsrivier-polisie het ook ’n toename van voertuigdiefstal, asook diefstal vanuit voertuie, waargeneem.
“Voorvalle is aangemeld waar al vier wiele afgesteel is van meestal kleiner voertuie of ligte afleweringsvoertuie wat in opritte by huise geparkeer was – selfs agter heinings,” sê Beukes.
“Ons versoek voertuigeienaars om waar moontlik hul voertuig in ’n toegesluite motorhuis te parkeer of bring sluitmoere op jou wiele aan as voorsorgmaatreël.”
Beukes sê remote jamming, waar ’n toestel gebruik word om die sein van jou karsleutel se afstandbeheerder te blok, bly ’n bron van kommer – veral by die parkeerplekke van winkelsentrums.
“Maak fisies seker dat al die deure en vensters van jou voertuig gesluit is en moenie enige waardevolle items soos skootrekenaars of selfone in sig laat nie.”
Kol. JT Naidoo, stasiebevelvoerder, sê hulle is veral besorg oor die toename van diefstal uit voertuie by die IPIC Soneike-winkelsentrum se parkeerterrein.
“Die afgelope twee maande het ons ’n toename in sake wat aangemeld is, spesifiek by dié winkelsentrum, gesien.
Buiten om dubbeld seker te maak dat jou voertuig gesluit is, raai Naidoo aan dat motoriste binne maklike sig van die sentrum se kameras parkeer.
Naidoo sê ná die misdaadinligtingsentrum en die bestuur se ontleding van misdaadtendense en patrone het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat dit meestal leerders is wat in die openbaar beroof word weens selfone en oorfone wat duidelik deur die oortreders gesien kan word.
Naidoo het verlede week ’n brief aan skoolhoofde uitgestuur waarin hulle gevra word om te help om die leerders bewus te maak daarvan om nie buitekant die skool se perseel te stap met hul selfone sigbaar nie.




