Polisie vind dwelms, kontant by vermeende dwelmhandelaar

Verskeie motorvoertuie en mense is tydens die operasie deursoek. Heelparty boetes is ook uitgeskryf.


Beamptes van die Parow-polisie het onlangs in ’n operasie in Pictonstraat en omliggende gebiede met ander rolspelers kragte saamgespan vir bewusmaking teen misdaad.

Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, sê altesame 50 voertuie is deursoek, sowel as ’n bykomende 65 mense. Volgens hom is sewe boetes uitgeskryf ter waarde van R9 500.

Die padversperring is Donderdag 23 Februarie tussen 07:00 en 15:00 uitgevoer.

Voetpatrollies is op die dag in die gebied uitgevoer en drankwinkels en handelaars in tweedehandse goedere is ook besoek, sê Williams. Beamptes van die polisie, die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement, Community in Safety, Community in Blue (CIB) en VRCID het daaraan deelgeneem.

“Die doel van die operasie is om motorkapings te stuit en om meter-taxibestuurders van misdaad in die gebied bewus te maak,” sê Williams.

AO Altworth Cupido het die operasie gereël en gelei.

’n Beampte van die Parow-polisie het ook verlede Woensdag om 10:10 op gesteelde goedere afgekom nadat daar by ’n sakeperseel ingebreek is. Die gesteelde goedere, waaronder batterye, is by ’n perseel in Frederickstraat in Parow-Vallei, gekry. Drie verdagtes is in verband met die goedere in hegtenis geneem.

Van die gesteelde goedere is na ’n skrootwerf in Elsiesrivier geneem. Die lede het inligting opgevolg en beslag gelê op die goedere, waaronder gesteelde wiele, sê Williams.

Die eiendom is deur die eienaar uitgeken en daar is ook beeldmateriaal van die voorval verskaf. Die drie verdagtes word aangekla van die besit van gesteelde goedere.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article