Polisie slaan op kapwerf in Bellville toe


Harde
geluide en ’n verdagte taxi het polisie Donderdagoggend na ’n onwettige kapwerf
in Bellville gelei.

Volgens lt.
kol. Fienie Nimb van die Bellville-polisiekantoor, het Oak Glen-inwoners
agterdogtig geraak nadat hulle ’n taxi sonder ’n nommerplaat in ’n oprit sien
staan het.

“Hulle was besorg oor die bewegings en het die
inligting deurgegee aan die Bellville-polisiekantoor.

Die polisie
het met hul aankoms by die woning ’n harde kapgeluid uit die motorhuis gehoor.

“In die
motorhuis was daar vier mans besig om aan ’n motorenjin te werk,” vertel Nimb.

“Verskeie
ander motor-onderdele en enjins het
rondgestaan in die motorhuis.”

Die mans
het almal gesê die eiendom behoort aan ’n ander onbekende persoon.

Polisielede
het op ’n buffer van ’n Ford Ranger afgekom waarop daar nog ’n nommerplaat
gestaan het.

“Toe hul
die registrasienommer nagaan, het dit getoon dat die voertuig in Januarie in
Kaapstad gesteel is. Al die reeksnommers van die enjins is ook afgeveil.”

Daar was
ook ander onderdele in die motorhuis, onder meer van ’n Ford Ranger en Nissan
Navara.

Die polisie
het beslag gelê op verskeie voertuiglisensiedokumente.

Die vier
verdagtes is in hegtenis geneem en sal
Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn.

Hul
ouderdomme wissel van 20 tot 37 en almal kom van Khayelitsha.

Nimb het
die oplettendheid van die gemeenskap geprys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article