Die Bellville-polisie ondersoek twee voorvalle van moord nadat twee mans, onderskeidelik 18 en 40 jaar oud, op Vrydagaand 8 November omstreeks 19:30 by ’n kroeg in die omgewing van South- en Blankenbergstraat, Bellville-sakekern, doodgeskiet is.
“Volgens berigte het die eerste slagoffer, ’n 40-jarige Chinese burger, by die kroeg aangekom en wou hy die badkamer gebruik. Hy is deur die uitsmyter na die badkamer vergesel. Toe die uitsmyter die badkamer ingegaan het om die lig aan te skakel, het hy verskeie skote buite die badkamer gehoor,” bevestig die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk.
Die uitsmyter het onmiddellik uitgegaan om te kyk wat aangaan en gesien die 40-jarige man is geskiet en lê op die vloer en bloei.
“Hy het toe agter die verdagte, wat die slagoffer geskiet het, aan gehardloop en ook om hulp geskree. Die 18-jarige het ook die verdagte agternagesit, en die verdagte het ’n vuurwapen uitgehaal en hom ook geskiet.”
Albei mans is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Die onbekende verdagte het van die toneel gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie. Volgens die Bellville-gemeenskapspolisiëringsforum se woordvoerder, Gerda Gerber, het die verdagte in die rigting van Van Zylstraat gevlug en een inwoner met ’n vuurwapen gedreig.
Van Wyk sê die motief vir die skietvoorval is steeds onbekend en vorm deel van die polisie-ondersoek.
- Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.




