Om Vrouemaand in te lui, het sowat 30 vroue in uniform, bygestaan deur lede van die gemeenskap en plaaslike buurtwagte, verlede Vrydagoggend in triestige weer ’n padversperring in Kraaifontein gehou.
Beamptes van Kraaifontein-polisie, in samewerking met die verkeersdepartement, wetstoepassing en metropolisie, het aan die gesamentlike operasie deelgeneem.
Motoriste is in albei rigtings in Botfonteinweg oorkant die polisiekantoor gestop.
“Ons het die bestuurders en voertuie se lisensies nagegaan en ook verskeie pamflette aan motoriste en verbygaande voetgangers uitgedeel met inligting oor geslagsgebaseerde misdrywe, gesinsgeweld en algemene padveiligheidswenke,” sê AO Louise Strydom.
Die operasie is daarna verskuif na die parkeerterrein by die Shoprite-winkelsentrum in Ou Paarlweg in Kraaifontein.
Altesaam 162 voertuie is nagegaan en verkeersboetes ter waarde van sowat R40 000 opgelê.
“Die hoofdoel van die dag was om sigbaarheid in die gemeenskap te toon. As vroue staan ons saam in Vrouemaand om aan die vroue in ons gemeenskap te wys dat ons daar is vir hulle,” sê Strydom.
Verskeie aksies, wat fokus op veiligheid vir vroue, vind in Augustus plaas.





