Die Wes-Kaapse polisie het vandeesweek op tik ter waarde van R120 000 beslag gelê.
Volgens Anelisiwe Manyana, ’n polisiewoordvoerder, het lede van die Maitland-blitspatrollie Dinsdag (4 Februarie) op 1kg tik met dié straatwaarde beslag gelê.
Die polisie het inligting ontvang dat tik deur ’n verdagte vervoer word, waarna hulle die inligting summier opgevolg het.
Hulle het die voertuig op die N1-snelweg naby die afdraai na Giel Basson-rylaan, Parow, opgemerk en die bestuurder voorgekeer. Die verdagte het uit die voertuig gespring en te voet van die toneel af gevlug, sê Manyana.
Sy sê die voertuig is deursoek en die blitspatrollie-lede het op die tik afgekom.
“Die dwelms is as ’n bewysstuk ingehandig.”





