Die Kraaifontein-polisie ondersoek nog voorvalle waarin diewe aan pensioenarisse voorgee om werknemers van die Stad Kaapstad te wees om toegang tot hul wonings te verkry.
Die jongste in ’n string voorvalle in Kraaifontein sedert laat verlede jaar het verlede Dinsdag in Belmontpark plaasgevind.
Tydens die voorval is goedere ter waarde van R24 000 gebuit – ’n skootrekenaar en twee selfone.
Anne van Niekerk vertel dat die twee mans hulself by die voorhekkie voorgestel het as werknemers van die munisipaliteit – glo daar om seker te maak hulle kry gratis krageenhede.
“Ek was altyd bedag en het aan hulle genoem hoe mense besteel word, maar toe wys hy my sy City of Cape Town-kaart met die logo op. Hy het dokumente in sy hand gehad en vir my en my man gesê dat ons as pensioenarisse kwalifiseer vir gratis krageenhede, maar dat hy die inligting van die kragmeter nodig het,” sê sy.
“My man het hom gaan wys waar die kragmeter is, en toe wil hy weet hoeveel kragproppe daar in die huis is. Hulle is van kamer tot kamer om die kragproppe te tel. Ek het eers ná die tyd besef dat hy skaars na die kragmeter gekyk het.
“Toe hulle klaar is, het hulle gevra dat ons saam met hulle uitstap, iets wat ek ook vreemd gevind het. Hulle is toe uit en om die draai. Eers terug in die huis het my seun opgelet sy selfoon is weg. Toe ek soek vir myne om hom te bel, was dié ook skoonveld. Toe sien ek my skootrekenaar is ook weg. Ek was histeries! Ek het uitgehardloop, maar hulle was reeds weg.”
CCTV-kamera-beelmateriaal het getoon hoe die twee mans op die hoek afgelaai is deur ’n derde persoon in ’n Maroen Uno met ’n wit buffer. Die mans se gesigte kan egter nie duidelik gesien word nie.
Van Niekerk sê die een man was jongerig en die ander een ietwat ouer en het ’n reflektorbaadjie aangehad.
Inbelsentrum
Luthando Tyhalibongo, woordvoerder vir die Stad Kaapstad, sê inwoners moet eerder die Stad se inbelsentrum by 0860 103 089 skakel om kontrakteurs se identiteit te verifieer.
“Munisipale werkers en kontrakteurs moet ’n werkbestellingsnommer spesifiek vir daardie woning hê en ’n wettige identifikasiekaart wat deur die Stad uitgereik is. Dit kan deur die inbelsentrum nagegaan word,” sê hy.
Tyhalibongo meld dat die Stad tans besig is met die vervanging van ou kragmeters ingevolge nasionale regulasies.
“Voorafbetaalde kragmeters, hoewel dit binne-in jou huis geïnstalleer is, bly die eiendom van die Stad en daarom moet personeel of kontrakteurs van die Stad redelike toegang tot die kragmeter toegelaat word.”





