Ongeveer 20 mans is op heterdaad betrap toe hulle gisteraand
sowat R100 000 se drank uit ’n vragmotor op ’n vervoermaatskappy se perseel op
die Bottelarypad wou steel.

Die vragmotor het aan ’n bekende kettingwinkelgroep in
Brackenfell behoort.

Die Brackenfell-polisie het omstreeks 21:40 ’n oproep
ontvang van die sekerheidswag op die perseel.

“Hy het ons verwittig dat ’n groep mense by een van die
vragmotors inbreek. Toe polisie op die perseel aankom het ’n leë taxi buite
gestaan en die hek was effens oop,” sê kapt. Erica Crous, woordvoerder van
Brackenfell-polisie.

Met nadere ondersoek het ao. Tommy Verreynne en sers. Kevin
van Niekerk gesien hoe ongeveer 20 mans drankbokse uit ’n trok laai.

Die mans het in alle rigtings gespat toe die polisie op
hulle afkom, maar vier mans is dadelik vasgetrek en in hegtenis geneem, en ’n
vyfde man wat in die aangrensende wingerde weggekruip het, is later deur konst.
Mariano Gioio in hegtenis geneem.

Die mans is almal tussen 30 en 40 jaar oud en woonagtig in
Kraaifontein, Khayamandi, Mitchells Plein en Gugulethu.

Volgens Crous is nog twee voertuie op die toneel gevind – ’n
Citroën en Mercedes.

Onder die buit was 97 bokse Viceroy-brandewyn en 34 bokse
J&B-whiskey.

Die saak word tans deur die Brackenfell-polisie ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article