Twee polisiebeamptes is verlede week skuldig bevind aan poging tot afpersing nadat hulle gedreig het om ’n man in Bellville van onwelvoeglike dade te beskuldig.

Die twee lede, AO Steven Jacobs en konst. Denzil Keith Abrahams, is verlede Dinsdag in die Bellville-handelshof ’n boete van R30 000 of drie jaar tronkstraf opgelê.

Luidens ’n verklaring deur Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die beamptes die klaer, Darren Thompson, in April 2017 in Voortrekkerweg in Bellville aangetref.

Thompson het saam met ’n 16-jarige in die kar gesit toe die twee polisiemanne in uniform by hulle stilhou.

Hulle het Thomas gedreig en gesê hulle gaan hom vir ’n onwelvoeglike daad met ’n minderjarige in hegtenis neem as hy nie vir hulle R4 000 gee nie.

Thomas het gesê hy het nie geld nie. Hulel het daarna die voertuig deursoek en vyf mikrofone uit die bagasiebak gevat.

Daarna het hulle foto’s van Thomas en die minderjarige geneem en gesê hulle gaan dit op sosiale media plaas met hul aanklagte indien hy nie vir hulle R4 000 gee nie.

“Hulle het nie op daardie oomblik die geld gekry nie en gesê hulle sou hom op 25 April 2017 bel om op ’n plek te besluit waarheen Thomas die geld kon neem,” sê Ntabazalila.

Thomas het die afpersing by die polisie gerapporteer, waarna die polisiebeamptes ’n lokval gestel het.

Thomas moes die twee by Leisureland Caravans in Robert Sobukweweg in Bellville ontmoet.

Nadat hy hulle klaar betaal het en hulle weggery het, is hulle deur die beamptes afgetrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article