Pleeg eerder woorde as moorde.
Dit is die pleidooi van die skrywer Elias P. Nel in die nuwe saamgestelde digbundel, Woordenaars. Woordenaars gee aan nuwe skrywers die platform om hul talent uit te stal, sê Nel, wat sy lewe daaraan wy om al die verskillende variëteite van Afrikaans in druk te kry.
“Woordenaars is ’n potpourri van uiteenlopende stemme, temas, fokusse, nuanses en taalvariëteite wat op die rykheid van Afrikaans dui. Dit is die verwoording van die Nederlandse spreekwoord: ‘Ieder vogeltje zing zoals het gebekt is.’ En word daar in hierdie bundel in uiteenlopende stemme gesing!” skryf Nel in die voorwoord van Woordenaars.
Volgens Nel het die bundel drie doelstellings naamlik om aspirant digters se werk te publiseer, om hulle verder deur mentorskapprogramme te bemagtig en om die hele Afrikaanse gemeenskap aan die lees te kry deur bekostigbare boeke.




