Die kruis op Bosmansdamweg wat aangebring is ter nagedagtenis van Giovanni Kumm (29).

‘n Ouer van die Kleinmeer-landgoed in Plattekloof is ongelukkig nadat die kruis wat ter nagedagtenis van haar seun langs ‘n pad opgerig is, gevandaliseer is.

Die kruis is geleë langs Bosmansdam-rylaan tussen Giel Basson-rylaan en Plattekloofweg.

Jacqueline Kumm, die ma van Giovanni Kumm (29) wat op 23 April 2024 verongeluk het, sukkel om dit te verwerk. Haar seun se vriende het die kruis daar aangebring ter nagedagtenis van Giovanni.

Die ongeluk waarin haar seun oorlede is, het om die ligte draai in Bosmansdamweg, net voor die kruising met Giel Basson-rylaan en naby Plattekloofweg gebeur, sê sy.

“Dit was vroegoggend en die omstandighede was mistig. My seun het van sy motorfiets afgeval en is later in die hospitaal aan interne beserings oorlede, volgens die nadoodse ondersoek,” sê sy.

Reeds ‘n maand ná sy afsterwe het die eerste geval van vandalisme by die kruis voorgekom.

Sedertdien is dit ‘n aanhoudende probleem, sê sy.

Haar man het onlangs die gebied weer besoek en die kruis in sy huidige toestand gevind. Dit is duidelik dat daar probeer is om die kruis met ‘n metaalvoorwerp af te kap, sê sy.

Volgens Kumm is die kruis sedert Mei 2024 herhaaldelik gevandaliseer.

“Ons het geen verduideliking vir hierdie optrede nie. Ek het ook my vriendin, wie se dogter oorlede is, gevra of hul kruis al beskadig is en haar antwoord was nee. Haar dogter se kruis is in Plattekloofweg,” sê sy.

Die kruis langs Bosmansdamweg nadat dit beskadig was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article