Tonne rommel.
Ná jare se klagtes is dit al wat Donderdag oorgebly het nadat onwettige plakkers uiteindelik uit Loevenstein verwyder is.
Die Stad Kaapstad het al in November 2023 ’n uitsettingsbevel bekom om die plakkers, wat in verskeie openbare plekke in die buurt gebly het, te laat verwyder.
Die laaste van die groep is egter eers Donderdag uit die area vort.
JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, wat toevallig Donderdagaand die buurtwag besoek het, het aan lede verduidelik die Stad is afhanklik van die balju wat die uitsettingsbevele toepas.
“Ek is baie bly om te sien dit het gebeur.”
Hy het inwoners aangemoedig om Loevenstein-park terug te eien en aktief te gebruik.
“As die park aktief gebruik word, sal die haweloses weggaan.”
Hy het voorgestel daar word ’n plaaslike mark gehou, met opbrengste wat gebruik kan word om die park te verbeter en sekerheidskameras te koop.
Hy het ook gesê ’n bord moet aangebring word wat wys wanneer die park oop- en toegemaak word. Sodoende kan mense wat ná toemaaktyd binne is, verwyder word.
Gert Knoetze, buurtwagvoorsitter, sê daar was sowat 15 mense wat in die park gebly het. In totaal was daar sowat 20 mense wat deur die uitsettingsbevel uit Loevenstein verwyder moes word.
Die meeste haweloses het teen Donderdag geweet die balju kom en het self padgegee.
Smith het ook ’n beroep op jonger mense gedoen om by die buurtwag aan te sluit. Die meeste prominente lede is bo 60, het hy bygevoeg.
Die buurtwag en Ronel Viljoen, raadslid, het ’n opname begin om inwoners se mening oor die mark in die park te kry. Lug joumeing by: bit.ly/49dcNpg.





