‘n Vrou van Durbanville en haar klein hondjie is albei geopereer nadat ’n pitboel in hul straat hulle verlede Donderdagoggend aangeval het.
Die pitboel het twee maande gelede ook ’n ander hond aangeval nadat hy teen ’n grensmuur opgespring en die hond oor die muur getrek het. Inwoners in Portulacastraat kla die hek van die pitboel se erf staan gedurig oop en is nou bekommerd dat ’n kind of dier ernstig beseer kan word as die pitboel nie na behore ingeperk word nie.
“Die hond se eienaar sê hy hardloop nooit uit nie, maar nou het hy. Die hond kan vir seker iemand doodbyt,” sê ’n inwoner, wat anoniem wil bly.
Hek staan oop
Volgens Eugene Smith het hy en sy vrou, Jemine, verlede Donderdag omstreeks 10:30 van die gimnasium gekom en het sy toe besluit om met hul nege maande oue miniatuur-windhond, Chewy, aan sy leiband te gaan draf. Toe sy voor die pitboel se huis in Portulacastraat was, het sy gesien die hek staan oop en het sy Chewy opgetel en met haar in haar arms verby die huis gestap.
Die pitboel het by die hek uitgehardloop gekom en haar aangeval en ’n diep gat in haar onderbeen gebyt. Sy het geval en die pitboel het hul hondjie aangeval en in sy gesig gebyt. Die hondjie se kakebeen is op twee plekke gebreek. Werkers by die pitboel se huis het aangehardloop gekom en die hond van hulle afgeruk en terug in die erf gejaag, sê Smith.
Die hondjie is na ’n veearts gejaag en daarvandaan na die Panorama-dierekliniek en spesialissentrum, waar hy geopereer is om sy gebreekte kakebeen te heg. Plate en ’n skroefie is in die kakebeen gesit en draadjies is deur die hondjie se tande gesit in die drie uur lange operasie.
Litteken agterlaat
Sy vrou is na die Mediclinic Durbanville geneem, waar sy later geopereer is om die diep wond in haar kuit te heg. Volgens Smith moes hulle die wond met 12 steke binne die wond en nog 12 steke buite heg.
Volgens die dokter gaan dit ’n groot litteken agterlaat, sê Smith. Hy het ’n klag by die Durbanville-polisie gelê, wat dit na die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement verwys het. “Hulle het reeds kontak gemaak en vir my ’n verwysingsnommer gegee,” sê hy.
Sy buurman het Maandag om verskoning gevra en aangedui hy gaan al sy vrou en die hond se mediese onkoste betaal, sê Smith.
Hy het al vroeër skerp spykerversperrings op die muur tussen hom en die buurman aangebring omdat die pitboel gereeld opgespring en aan die muur gehang het. Hy was bang die pitboel kom oor die muur, sê hy.
Boete
Die pitboel het sowat twee maande gelede ’n Boston-terriër in ’n ander aangrensende erf oor die muur beetgekry, oor die muur in sy erf getrek en stukkend gebyt. Die veeartsrekeninge het by die R5 500 beloop, wat die eienaar van die Boston-terriër glo self moes betaal het. Die hond het ook glo al tevore mense wat draf, gejaag.
Wayne Dyason, woordvoerder van Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement, sê ’n beampte het reeds met die slagoffer se man kontak gemaak.
Volgens Dyason kan hulle ’n seksie 56-kennisgewing uitreik of seksie 54-dossier open om te verseker die oortreder verskyn in die hof. ’n Boete van R3 000 kan uitgereik word as ’n hondeienaar nie voorkom dat sy hond ’n persoon of ander dier aanval nie.





