Die Primêre Skool Pinedene skitter met sy deelname aan die ATKV-Applous-eindronde in Pretoria.

Credit: SYSTEM

Die Primêre Skool Pinedene se koor het geskitter met sy deelname aan die ATKV-Applous se eindronde en stap weg as die beste nie-Afrikaanse koor in die meriete-afdeling in Suid-Afrika.

Die eindronde het in Pretoria plaasgevind. Altesaam 57 koorlede en nege onderwysers het die toer meegemaak. Met splinternuwe sweetpakke het die kinders ‘n baie lang en koue reis aangepak.

“Almal was opgewonde en terselfdertyd senuweeagtig,” vertel Rosita Barends, wat dien in die skool se beheerliggaam.

Lizl Gaffley, die dirigent, en Arnold Miller, die skoolhoof asook die begeleier, het ook die toer meegemaak.

Volgens Barends het die koor in die meriete-afdeling vir nie-Afrikaanse kore deelgeneem. Hierdie afdeling is vir skole wat Engels as eerste taal aanbied.

“Nie net het die koor met die louere weggestap in sy afdeling nie, maar die koor is ook aangewys as die wenner van die afdelings vir die beste uitvoering van ’n Afrikaanse werk en beste uitvoering van ’n voorgeskrewe lied, waarvoor die koor goue toekennings ontvang.

Barens sê verder om alles te kroon is die koor ook as ’n kategoriewenner aangewys.

“Dit beteken dat Pinedene die beste nie-Afrikaanse koor in sy afdeling in Suid-Afrika is.”

Koor is een jaar oud

Die Pinedene-koor is presies ’n jaar oud. Die koor is in 2023 deur Lizl Gaffley gestig. “Dit is ‘n geweldige prestasie om binne een jaar van bestaan ’n nasionale titel te wen. Dit was ook die eerste keer dat ons inskryf vir die Applous-koorkompetisie,” sê Barends.

Volgens Gaffley, koorleier, is sy baie trots op dit wat die kinders vermag het.

Die koor het eers van 2 Mei aan hul kompetisie-repertorium begin oefen, omdat Gaffley ’n knievervanging in die tweede kwartaal ondergaan het.

Hierdie kinders was vasberade om hul beste te lewer en daarom is sy baie trots op elke koorlid wat ure ná skool en hul vakansie opgeoffer het om voor te berei vir een van die grootste kompetisies in die land., sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article