So lyk die twee mans wat by deur aanklop om kragbokse “te scan” vir afslag op koopkrag.


Pensioenarisse word gewaarsku om lig te loop vir twee beweerde swendelaars wat tans in Brackenfell doenig is.

Volgens ’n pensioenaris in Morgenster het die twee mans Vrydag by sy huis kom aanklop en hulself as amptenare van die Stad Kaapstad se elektriese afdeling voorgedoen.

“Hulle het gevra of ek ’n pensioenaris is en wou toe inkom om my kragboks te scan sodat ek kan kwalifiseer om afslag te kry op hul koopkrag,” sê die man, wat nie sy naam in die koerant genoem wil hê nie.

“Ek het hulle natuurlik nie ingelaat nie omdat ek nie vooraf bewus was van hierdie afslag nie. Die Stad Kaapstad het aan my bevestig dat daar nie so iets bestaan soos ’n afslag op koopkrag nie.”

Die inwoner het foto’s van die twee mans geneem en die voorval aan ’n sekerheidsmaatskappy gerapporteer.

“Die mans het blou oorpakke, keppies en geel reflective baadjies aangehad.”

’n Woordvoerder van die Stad Kaapstad sê die Stad is bewus van so ’n slenter in sekere dele van die stad.

“Dit lyk asof pensioenarisse geteiken word. Een man sal met die inwoner praat, terwyl die ander een kyk vir klein items in die huis om te steel. Dis nie ongewoon vir sulke misdadigers om munisipale kleredrag te dra en selfs ’n vorm van identiteit te wys nie. Hulle daag by huise op om óf die kragbokse óf meter na te gaan,” sê Beverley van Reenen, burgemeesterskomiteelid vir energie.

“Inwoners moet nie die deur of die hek oopmaak nie maar eerder die Stad se dienssentrum skakel by 0860 103 089 om te bevestig of daar enige werk in hul area gedoen word.

“As daar onraad vermoed word, skakel die Stad se wetstoepassing by 0800 323 130 of die polisie,” sê Van Reenen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article