Die Wes-Kaapse polisie ondersoek ´n saak van moord en roof nadat ´n geestelike leier glo Dinsdag 8 Oktober by sy huis in Parow-Noord dood aangetref was.
Luidens mediaberigte is die oorledene ’n pastoor wat by die AGS-kerk in Goodwood bedien het. Hy is as Past. Dirk Miller geïdentifiseer.
Die slagoffer was vasgebind in sy huis aangetref, het die Wes-Kaapse polisie gesê. Volgens die polisie is speurders verbonde aan die Parow-polisiestasie hard aan die werk om leidrade op te volg in ’n poging om die verdagtes, wat vir die moord op die 80-jarige man verantwoordelik is, vas te trek.
Lede van die polisie het die betrokke oggend op ’n klagte gereageer.
LEES | Twee “afpersers” in die hof
“Met hul aankoms by die misdaadtoneel in M.E Rothmanstraat om 09:30 het hulle die lyk van die slagoffer in sy huis aangetref. Die persoon was vasgebind,” sê ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder.
Dis onduidelik of die man doodgesteek of doodgeskiet is. Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.“Die verdagtes, wat onbekend is, het die toneel gevlug en moet nog aangekeer word. Die motief vir die aanval, glo ons, is huisroof,” sê Swartbooi.
Die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisroof.
Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.





