Andrea Titus (Courage to Care), ’n verpleegsuster, by Victoria Kalimashe, wie se nommer getrek is om ’n geskenkpakkie te ontvang.


Die gemeenskapsgesondheidsdiens Courage to Care in Oakdene is vanaf 1 Mei amptelik Graceful Care Unlimited – ’n nuwe organisasie sonder winsbejag met Andrea Titus, ’n geregistreerde verpleegsuster, aan die stuur.

Titus (60), wat al langer as 40 jaar in verpleging is en 25 jaar by die Groote Schuur-hospitaal gewerk het, is die laaste 10 jaar in die Kuilsrivier-gemeenskap werksaam.

Die span by Graceful Care bestaan uit 36 versorgers, drie geregistreerde verpleegsters, een stafverpleegster, ses lekeberaders (wat MIV- en tuberkulose-toetse doen), en ’n rehabilitasiewerker (wat by ’n fisioterapeut werk, maar tuis uitreik na pasiënte wat verwys is vir fisioterapie).

Die gebied wat hulle bedien sluit Vrygrond, Kalkfontein, Sarepta en die breër Kuilsrivier tussen die R300-pad en die Stellenbosch-hoofverkeersweg in.

Toeganklike gesondheidsdiens

Titus sê meeste van die versorgers wat pasiënte tuis besoek, woon ook self in die gemeenskap.

Graceful Care se fokus is gemeenskaps-georiënteerde primêre gesondheidsorg (amptelik bekend as COPC – community orientated primary care), wat ten doel het om gesondheidsdienste in gemeenskappe toeganklik te maak.

Titus verduidelik dit dek van dienste soos bloeddruk-, diabetes- en MIV-toetse tot gesinsbeplanning en reproduktiewe gesondheid, wondversorging, chroniese pasiënte, bedlêende pasiënte, medisyne-nakoming, kindergesondheid en bejaardesorg.

Titus sê hulle het tans vyf ARV-gemeenskapklubs wat makliker toegang tot antiretrovirale medikasie vir MIV-pasiënte moontlik maak.

Dit word in samewerking met die Eersterivier-hospitaal aangebied.

Daar is ’n wye netwerk van rolspelers binne die gemeenskap met wie hulle by tye saamwerk soos die Stad Kaapstad se gesondheidsdienste, die polisie, wetstoepassing, Hope House, Badisa en ander.

Vir Titus is dit belangrik dat mense moet weet van hulle en dat die dienste wat hulle aanbied, gratis is. Graceful Care word ondersteun deur die departement van gesondheid, wat die personeel se salarisse betaal.

“Ons wil mense aanmoedig om ons te kom sien. As hulle die versorgers (in hul nuwe wit uniforms) langs die pad sien, kan hulle by hulle navraag doen.”

Vrydag het Titus en haar span die eerste keer Verpleegstersdag gevier onder hul nuwe vaandel as Graceful Care Unlimited.

Sondag was Titus se eerste Moedersdag sonder haar eie ma, Kathrina van Wyk, in wie se voetspore sy gevolg het om ’n verpleegster te word.

In Oktober verlede jaar het Titus haar ma by ’n geleentheid wat sy vir MIV-pasiënte gereël het, vorentoe geroep om haar te bedank.

“Omdat ons ’n familielid het met MIV, het sy altyd my uitreike ondersteun. Sy het altyd gesê sy is nie infected nie maar affected.”

Haar hart was stukkend toe haar ma ’n maand daarna en kort na haar 60ste verjaarsdag oorlede is.

Titus het voorheen vertel haar ma – wat vier kinders alleen grootgemaak en twee (volwasse) kinders aan die dood afgestaan het – was ’n voorbeeld van deursettingsvermoë, wat haar geleer het “die lewe skuld jou niks – jy moet dit maak gebeur.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article