Heelparty soorte medisyne moet met maaltye geneem word en soms aanvaar ons ’n maaltyd as vanselfsprekend.
“Tog is daar baie (en van ons eie pasiënte) wat nie weet waar die volgende maaltyd vandaan kom nie, sê Helena Lewies, ’n verpleegsuster en operasionele bestuurder van die Goodwood-kliniek.
“So, om ons mense te kon voed, was ’n eer.”
Pasiënte laat nie sommer blyk dat, buiten mediese sorg, hulle ook ander tekorte het nie.
Op 22 Julie het die Goodwood-kliniekpersoneel besluit om nie net mediese sorg aan pasiënte te gee nie, maar om ook sop en brood.
’n Integrale aksie
Lewies sê daar is ook geen twyfel in haar hart nie dat om haweloses te voed ’n noodsaaklike en integrale aksie in ons gemeenskappe moet wees.
Die kliniek verseker op dié wyse dat mense in ’n krisis, en veral haweloses, ’n maaltyd kan hê.
Johanna Thomas (73) sê die sop was baie lekker; sy het dit met die brood baie geniet. Sy vertel dat sy al van 07:00 af by die kliniek gesit het en waardeer die gebaar geweldig baie. Weens die lang sit het sy al honger geraak.
Nog pasiënte het die personeel geprys.
Naomi Mingo van gesondheidsbevordering by Goodwood-kliniek sê hawelose pasiënte besoek die kliniek daagliks en is gedurig honger.
“Die meeste medikasie wat geneem moet word, is met of voor etes en om te verseker dat hulle iets te ete het, het ons gesorg dat hulle ’n maaltyd vir die dag het.”
‘Sharing is Caring’
Hierdie projek was deel van Mandeladag en stem ooreen met die kliniek se slagspreuk van “Sharing is Caring”.
“Dit is die rede hoekom ons die inisiatief geneem het om nie net daaglikse verpleegsorg te bied nie, maar om pasiënte ook te voed vir die dag,” sê Mingo.
Die kliniek se personeel het ook besluit om dit ’n maandelikse instelling te maak.
“Dit was so bevredigend om die dankbare harte te sien en behoeftiges te kon voed. As die departement van gesondheid gee dit ons beslis ’n gevoel van omgee. Ek glo om te lewe, is om te gee en te deel,” het Mingo gesê.
Elke personeellid het R30 vir die voedsel bygedra.
Lewies het gesê hulle bied gewoonlik mediese sorg, “maar om honger mae te voed, was ’n absolute voorreg”.





