Bellville-polisieman een van vier polisielede wat in Wynberg-landdroshof verskyn ná huisroof

Ter illustrasie. FOTO: Heleen Boshoff

Vier polisiebeamptes, onder wie een wat by die Bellville-polisiestasie gestasioneer is, is deur die Wes-Kaapse teenkorrupsie-eenheid op aanklagte van huisroof in hegtenis geneem.

Die lede het vandag (3 Oktober) hul verskyning in die hof gemaak ná die klag oorspronklik by die Houtbaai-polisie aangemeld is.

Die polisie het by monde van kapt. F.C. van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê die klagtes volg op ’n huisroof op Saterdag 14 September omstreeks 01:35 by die perseel van ’n buitelander in Sunsetlaan, Llandudno. Verskeie beamptes was glo by die misdaad betrokke.

Die saak is toe na die teen-korrupsie-eenheid oorgedra, waar verdere ondersoek deur ervare speurders gelei het tot die inhegtenisneming van die verdagtes. 

Die sersant, verbonde aan die Bellville-polisie, is op Donderdag 19 September omstreeks 18:35 in hegtenis geneem. 

“Die beampte is by die Wynberg-polisieselle aangehou tot hy op Maandag 23 September sy eerste verskyning in die Wynberg-landdroshof gemaak het. Hy het saam met die ander twee beskuldigdes, wat op dieselfde dag van die misdaad in hegtenis geneem is, verskyn,” sê Van Wyk.

Volgens die woordvoerder vir Bellville-polisie, lt. kol. Fienie Nimb, het die stasiebevelvoerder, brig. Jan Alexander, die inhegtenisneming hartlik verwelkom.

”Die lid was nie aktief op diens toe die misdaad gepleeg is nie,” sê sy.

Nimb meen dat lede van Bellville-polisie onderdanig is aan teenkorrupsie-beleide en -werksessies, waarna elke lid verplig is om etiese dokumente te onderteken.

“Dit word juis so gedoen om te sorg dat polisielede nie misdaad pleeg onder die voorwendsel dat hul weens onkunde die wet oortree het nie. Indien daar bevind word dat die individu wel die wet oortree het, beteken dit die daad was gepleeg met volle begrip dat hul krimineel vervolg sal word,” voeg sy by.

Op sy beurt sê Alexander dat die vervolging van die sersant goed is omdat dit die reputasie van die Bellville-polisie oor die algemeen beskerm en so ook die gemeenskap se vertroue waarborg.

“Wanneer die wet, selfs in jou private kapasiteit, oortree is, sal jy vervolg word. Niemand is bo die wet verhewe nie,” sê hy. 

Ander polisielede wat in hegtenis geneem is, sluit in ’n 44-jarige sersant van Belhar, ’n 28-jarige konstabel by Gugulethu-polisie, sowel as ’n 38-jarige sersant by Philippi-polisie.

Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt-gen. Thembisile Patekile, het die ondersoekspan vir die inhegtenisnemings geprys.

Hy sê polisiebeamptes is veronderstel is om die wet te handhaaf en die publiek te beskerm.

“Laat dit ’n waarskuwing wees aan diegene wat dink hulle kan die hulpbronne van die staat vir hul skandelike doeleindes misbruik,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article