Die Parow-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê hy is bekommerd, maar hoopvol nadat die jongste misdaadsyfers onlangs bekend gemaak is.

Bronwin Daniels, GPF-voorsitter, het verlede week gereageer op die jongse syfers wat op Vrydag 23 Mei deur die polisieminister, Senzo Mchunu, bekend gemaak is.

Die syfers is gebaseer op die misdaad wat gepleeg is tussen Januarie en Maart vanjaar.

Aanranding en dwelms was van die misdade waarvan die syfers hoog was, en in die drie maande periode is vier moorde gepleeg.

Die Parow-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede week gesê hy neem kennis van die kommerwekkende syfers wat in die verslag weerspieël word, veral die voorvalle van moord, poging tot moord, seksuele oortreding en aanranding in hul gemeenskap.

“Die statistieke beklemtoon die voortdurende uitdaging waardeur ons in die gesig gestaar word om veiligheid en sekerheid vir alle inwoners te verseker, sê Daniels.

“As GPF-voorsitter wil ek beklemtoon dat hierdie syfers die dringende behoefte aan voortgesette samewerking tussen die polisie, GPF, plaaslike owerhede en die gemeenskap in die algemeen versterk. Ons bly daartoe verbind om onvermoeid saam met ons vennote te werk, om doeltreffende misdaadvoorkomingstrategieë te implementeer, ons pogings te verbeter en openbare bewustheid te verskerp om hierdie kwessies aan te pak.”

Daniels sê hoewel die statistieke kommerwekkend is, is hulle hoopvol dat volgehoue betrokkenheid en geteikende ingryping in die komense maande tot ‘n veiliger Parow sal bydra.

“Ons moedig gemeenskapslede aan om waaksaam te bly en verdagte aktiwiteite onmiddellik by die polisie en die GPF aan te meld, aangesien kollektiewe optrede noodsaaklik is in die bekamping van misdaad,” sê Daniels.

Daniels het ook die polisie bedank vir hul harde werk in die gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article