Paralimpiese atleet se prys ná uittrede ”n verrassing en eer’

Charl du Toit nadat hy verlede jaar silwer in die Statebondspele in Birmingham gewen het. FOTO: Reuters

Credit: SYSTEM

Min mense kan daarmee spog dat hul loopbane met ’n nasionale prys afgesluit is.

Maar Charl du Toit (30), voormalige Paralimpiese kampioen, se uittrede is een waarvan mens net kan droom.

Du Toit, wat met serebrale verlamming gebore is, het sy uittrede in Augustus verlede jaar by die Statebondspele in Birmingham aangekondig, pas nadat hy ’n silwermedalje in die 100m-eindronde (T37/T38) behaal het.

Dit was veronderstel om die einde te wees, totdat hy vroeër vanjaar deur die nasionale departement van sport en kultuur genooi is om die Suid-Afrikaanse sporttoekennings op 25 Maart by te woon.

Onder die helder ligte van die geleentheid wat by Sun City gehou is, is hy met die minister se toekenning vir uitmuntendheid vereer.

“Ek is baie, baie dankbaar en geëerd om hierdie toekenning te kry. Dit is ’n lekker manier om af te sluit,” sê Du Toit. “Ek was nogal baie verbaas. Dit is ’n groot voorreg.”

Dit span die kroon op ’n loopbaan van verskeie hoogtepunte en prestasies. Hy het onder meer ’n goue medalje in die 100m en 400m by die Paralimpiese spele in 2016 in Rio de Janeiro verower, die wêreldrekord in die 100m verbeter en ’n silwer in die 2014 Statebondspele wat in Glasgow gehou is.

Boonop is hy ook al voorheen met ’n Suid-Afrikaanse sporttoekennings vereer toe hy die prys as Sportman van die jaar met ’n gebrek aangekondig is.

Maar dit was tyd vir nuwe dinge en Du Toit moes met die volgende deel van sy lewe begin.

Nuwe hoofstuk

Hy was juis besig met sy nuwe werk as Hoof van Atletiek en as ’n LO-onderwyser by die Hoërskool Stellenberg toe hy na vanjaar se sporttoekennings genooi is.

Hy is baie opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe.

Hy geniet veral die bestuur-gedeelte van sy werk en sê sy eie agtergrond het hom goed toegerus om te sien wat werk sodat hulle nie in dieselfde slaggate trap nie.

“Ek is baie dankbaar wonderlike span waarmee ek werk.”

Charl du Toit

Charl du Toit en sy verloofde Chantell Olivier by die Suid-Afrikaanse sporttoekennings waar hy met ‘n ministeriële prys vir uitmuntendheid vereer is.

Du Toit Hy het tot onlangs nog voltyds geoefen en deeltyds by die LO-fakulteit van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) gewerk.

Die Hoërskool Stellenberg het ook nog vir hom die buigsaamheid gegee om vir die Statebondspele voor te berei voordat hy uitgetree het.

Op die oomblik geniet hy die jonger geslag om te sien hoe hulle inneem wat hy geleer het.

“Ek probeer maar om my kennis vir kinders oor te dra,” sê hy.

Met atletiekafrigting volg hy ook nou in sy pa Wessel se voetspore. Wessel rig al vir meer as vier dekades atletiek in Pretoria afrig.

Du Toit, wat in Brackenfell bly, is verloof aan Chantell Olivier, die sporthoof by Curro Brackenfell.

Agtergrond

Hy het in Pretoria grootgeword en aan die Hoërskool Akasia skoolgegaan.

Du Toit se een kant van sy lewe is nie so ontwikkeld soos die ander deel van sy lyf nie, maar hy het nooit twee keer daaraan gedink nie.

“Ek het nooit gedink iets is fout met my nie.”

Hy het meestal krieket gespeel en eers op 17 vir eerste keer regtig begin hardloop.

Sy pa en sy ma, Elmarie, was self was albei goeie atlete en die feit dat hy dadelik goed gedoen het, moes eintlik nie ’n verbasing gewees het nie.

Dit was egter eers toe hy ’n besering kry wat die saadjie vir parasport by hom geplant is. Die fisioterapeut wat die besering behandel het, het die idee aan hom voorgestel en hoewel hy eers gedink het hy nie vir so iets sou kwalifiseer nie, het hy nadere ondersoek gaan instel.

Dit was eers toe hy meer leer van die nuanses van elke afdeling waaraan atlete met gestremdhede kon deelneem, dat hy sy lyf beter verstaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article