Elektroniese padborde in Kaapstad sal nou ook Afrikaans vertoon danksy ’n inisiatief van Geordin Hill-Lewis, burgemeester, om al drie tale van die stad – Afrikaans, Engels en Xhosa – op die borde te gebruik.
Geordin-Hill het hom ’n paar maande beywer om dit te laat gebeur en moes Sanral en die provinsiale regering kry om die konsep te ondersteun.
Hy het Vrydag na een van die borde op die N1 naby Paardeneiland gaan kyk.
“Ek is verheug dat Kaapstad nou die enigste stad is met elektroniese padborde wat al die tale van ons stad weerspieël.
Ons moet geleenthede soek om die diversiteit van ons stad te demonstreer en te vier. Ons kulturele, taal- en godsdiensdiversiteit is deel van wat Kaapstad wonderlik maak, en moet eerder as ’n bate gevier word.
Noudat dit gedoen is, is ek trots elke keer as ek verby ’n Afrikaanse of Xhosa-bord op een van ons snelweë ry. Ek hoop Kapenaars waardeer dit,” het hy Vrydag aan TygerBurger gesê.





