’n Meisie van Bishop Lavis gaan later vanjaar haar danspassies in Duitsland ten toon stel, maar voor sy kan, het sy eers die gemeenskap se hulp nodig.
Riana Jacobs en haar dansmaat, Morgan Achmat, gaan aan die 2023 0.21-danskampioenskap in Duitsland deelneem.
Riana (19), ’n verpleegstudent, en Morgan (18) wat sakebestuur studeer, blink veral in baldanse uit.
Nerene Jacobs, Riana se ma, sê hulle het die afgelope naweek ’n suksesvolle geldinsameling-geleentheid gehou. “Ons gaan nog ’n hele paar sulke geleenthede hou, want hulle het ’n aansienlike hoeveelheid geld nodig. Ek en my gesin is dankbaar vir diegene wat reeds diep in hul sakke gekrap het om ons kinders se drome te bewaarheid,” sê Nerene.
Volgens Nerene het ’n niggie van Riana gedans en sy het as kind begin belangstel. “Sy het sommer dadelik gewys sy het talent en het oor die jare hard gewerk. Hierdie geleentheid is die resultaat van jare se harde werk en ons gaan alles in ons vermoë doen om seker te maak hulle is op die vliegtuig,” sê sy.
Riana sê die kampioenskap in Duitsland is die geleentheid van ’n leeftyd.
“Wanneer ’n mens begin dans, is hierdie die goed waarvan jy droom, en ek en Morgan wil die beste van die geleentheid maak. Ek is gewis ’n bietjie senuweeagtig, maar ook baie opgewonde. Baie werk lê nog voor, maar ons sal gereed wees. Ek sien daarna uit om teen dansers van oor die wêreld heen mee te ding en nuwe vriendskapsbande te smee. Ek het ’n goeie gevoel en ons mik daarna om in die topdrie te eindig,” sê sy.
Sy droom ook daarvan om eendag in Rusland te oefen.
- Om hulle te help om geld in te samel besoek: https://www.backabuddy.co.za/morgan-achmat-riana-jacobs…





