Wanneer jy na Adriaan Nieuwenhuizen (39) van Parklands luister, besef jy gou dat sy lewenspad vol diens, geloof en hoop is.
Maar deesdae is daar een naam wat sy storie oorheers – Marvel, sy reddingshond, sy beste vriend en sy grootste seën.
In Oktober 2024 het Adriaan ‘n eenvoudige uitstappie na ‘n aannemingsdag vir honde in Durbanville onderneem. Hy het nie toe geweet dat sy lewe daardie dag onherroeplik sou verander nie.
“Marvel het my nie eens ‘n keuse gegee nie,” vertel hy met ‘n glimlag. “Hy het sommer self besluit ek is sy mens. Hy het vir vyf ure lank net langs my gelê, terwyl ander honde om hom speel en blaf. Hy het nie van my af beweeg nie – asof hy van die begin af geweet het ons behoort saam.”
Daardie aand het Adriaan onmiddellik begin reëlings tref om Marvel huis toe te bring. Drie weke later, op Swart Vrydag, was dit amptelik – Marvel het sy nuwe huis en sy nuwe lewe gekry.
Van pyn na wonder
Marvel se oorspronklike naam was Oupa, ‘n weerspieëling van sy rustige aard. Maar sy storie was allesbehalwe maklik. As hondjie is hy mishandel, selfs deur sy eie ma, en hy het wonde gehad wat sy swaar verlede verraai het.
Adriaan het gevoel ‘n nuwe begin vra ‘n nuwe naam – iets wat sy krag, oorlewing en unieke gees kon vasvang. Hy het op Marvel besluit, ‘n naam wat wonder en miracle beteken. “Hy is regtig my miracle dog,” sê Adriaan. “Hy het soveel trauma oorleef en tog sy liefdevolle hart behou. Marvel is vir my ‘n geskenk.”
Marvel is meer as net ‘n troeteldier – hy’s ‘n karakter op sy eie. Sy stokperdjies sluit in roadtrips, bal speel, zoomies in die park, knuffels, slaap en natuurlik lekkernye. Hy is beskermend en dapper, maar ook snaaks en speels.
“Hy het ‘n manier om mense te laat lag, selfs wanneer hulle hartseer is. Marvel kan my gedagtes lees – net soos ek syne verstaan. Hy is my veilige plek,” vertel Adriaan.
Agtergrond
Adriaan sê sy wortels lê in Bloemfontein, “maar in 2014 het ek ‘n pad begin stap wat my lewe vir altyd sou verander.” Hy het daardie jaar ses maande by Youth With A Mission (YWAM) betrokke geraak – ‘n sendingorganisasie wat ‘n verskil maak deur gemeenskapsuitreike, deur mense te help, hoop te bring en eenvoudig liefde uit te leef. “Hierdie tyd het my perspektief verander en my hart oopgemaak vir mense en gemeenskappe in nood.”
Later daardie jaar tot in April 2015 was hy vir ‘n paar maande in Pakistan, “waar ek die kans gehad het om eerstehands te sien hoe groot die impak van diens en omgee kan wees. Ná my tyd daar het ek weer in Bloemfontein gaan stilstaan om dinge uit te sorteer en myself reg te kry vir die volgende hoofstuk van my lewe.”
In April 2015 het hy die geleentheid gekry om Kaapstad sy nuwe tuiste te maak. “My eerste stop was in Muizenberg, toe na Plattekloof om nader aan my werk te wees, en uiteindelik het ek my in 2016 in Parklands gaan vestig.”
Dieselfde jaar het hy betrokke geraak by ‘n kerk in Kaapstad. “Daar het ek aanvanklik by die jeugbediening (gr. 6 tot 9) begin werk, en later ook gemeenskapsprojekte. Dit was juis deur hierdie betrokkenheid dat ek met TLC in Table View paaie gekruis het. Ek is ongelooflik dankbaar vir tannie Colleen, die hoof van TLC, wat deure vir my oopgemaak het en my die kans gegee het om werklik deel te van die gemeenskap te wees. TLC doen fantastiese werk – nie net in Table View nie, maar regdeur die Weskus-omgewing. Ek het gesien hoe mense se lewens daardeur aangeraak en verander word,” sê Adriaan.
As hy terugkyk, besef hy dat elke stap – van Bloemfontein, na sy sendingwerk tot Kaapstad – hom gevorm het in wie hy vandag is. “Ek dra groot dankbaarheid in my hart, en ek glo vas dat wanneer jong mense of matrikulante betrokke raak by ‘n uitreik soos TLC, dit nie net die gemeenskap raak nie, maar ook hul eie lewens op ‘n diep en blywende manier verander.”
Marvel se speelparadys
Toe Marvel by Adriaan se lewe aansluit, het hulle verskeie parke uitgetoets. Maar eers toe hulle Brander Park in Bloubergstrand ontdek, het dit gevoel soos “huis”.
“Dis groter, ruimer en vol lewe. Marvel het sy eerste vriendin, Jasna, daar ontmoet – en van daardie dag af was dit sy gunstelingpark,” sê Adriaan.
Marvel se sosiale kring het gou gegroei: Harry en Buddy, die golden retriever-broers; Murphy, Siri, Sophie, Shaggy, Zoey en vele meer. Elke hond het hy op sy eie manier hanteer – soms rof en speels, ander kere sag en rustig. “Brander Park is waar hy sy gelukkigste herinneringe gemaak het.”
‘n Nuwe reis saam
Adriaan en Marvel staan nou voor ‘n groot verandering – ‘n verhuising weg uit Kaapstad weens persoonlike omstandighede. Dit is ‘n moeilike besluit, maar een ding is seker: Marvel gaan saam.
“Ons skerm vir mekaar. Hy hou my sterk wanneer ek af voel, en ek sorg dat hy veilig en geliefd is.”
Adriaan droom daarvan om Marvel as ‘n psigiatriese dienshond te laat oplei. “Die opleiding is duur, maar ek weet dis die beste vir ons albei. Hy het my gered; nou wil ek vir hom ook die beste toekoms gee.”
Hy oorweeg om ‘n BackaBuddy-blad te begin om die opleiding te finansier. Intussen deel hy hul avonture op Instagram by @marvelous_marvel2025.
‘n Hond wat meer as ‘n hond is
Vir Adriaan is Marvel nie net ‘n troeteldier nie, maar ‘n engel. “Ek glo God het hom gestuur om oor my te waak en my te herinner dat ek nooit alleen is nie.”
Met ‘n diep dankbaarheid kyk hy terug na die Kaapse gemeenskap wat hom en Marvel verwelkom het. “Ons gaan julle mis – elke vriend, elke stap in Brander Park, elke klein gebaar van liefde. Dankie dat julle vir Marvel ‘n familie gegee het.”










