‘Ouma Queen’ leer op 62 vir die eerste keer van rekenaars

Queen Malgas leer vir die eerste keer hoe rekenaars werk. Saam met haar is Charlene Miles, die stigter van die nie-winsgewende organisasie Nostop. wat die klasse aanbied.

Credit: SYSTEM

Jy is nooit te oud om te leer nie, sê Queen Malgas (62), ouma van twee wat onlangs vir die eerste keer kennis gemaak het met rekenaars by ’n kursus wat by Bethel Tabernacle-kerk in Scottsville deur die nie-winsgewende organisasie Nostop aangebied is.

Die kursus is daarop gefokus om die kwessie van rekenaarongeletterdheid onder volwassenes die hoof te bied.

“Ek sou nooit daarvan kon droom om so iets te kan doen nie, omdat ek al ’n pensioenaris is. Alles is deesdae op rekenaars, selfs met jou selfoon moet jy weet van moderne tegnologie. Ek het net my foon gekoop sodat my kinders my kan bel, maar het nooit geweet my foon kan ook ’n rekenaar wees nie. Dit is so voordelig dat ek nou ander mense kan help in die gemeenskap wat dit nie ken nie,” sê sy.

Ouma Queen was die eerste een wat ingebel het om in te skryf vir die kursus toe sy daarvan te hore kom.

“Ek was nuuskierig en dit was die eerste keer dat ek so ’n kursus kon bywoon en dit was so leersaam.

“Dit het ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak van waar ek nou Facebook-goed op my foon doen, nommers soek en ook e-posse kan stuur.”

Voor die kursus, sê sy, kon sy nie eens die rekenaar aanskakel nie.

“Nou gebruik ek my seun se rekenaar elke dag en weet ek hoe om in programme soos Word te werk en briewe uit te druk. Dit het my inspireer en ek wil nou iets van die huis af doen om my pensioen aan te vul,” sê sy.

Charlene Miles, die stigter van Nostop, wat verskeie gemeenskapsprojekte in Kraaifontein bedryf, sê hulle het die kritieke gaping gesien en daarom besluit om die kursus in basiese inleiding tot rekenaars aan te bied.

“Dit was regtig wonderlik om te sien hoe tannie Queen soveel vaardighede aanleer in die drie dae van opleiding.

“Soos die spreekwoord lui, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Ek voel trots dat sy bewys het dat die ouderdom nie ’n verskil maak as jy iets wil leer nie,” sê sy.

Groot aanvraag

Charlene Miles, stigter en uitvoerende direkteur van Nostop, sê die aanvraag vir die kursus, wat geen ouderdomsbeperking het nie, is groot.

“Daar is baie ouer mense wat smag om meer te leer oor rekenaars. Hulle is afgetree en sit by die huis en wil in hul goue jare meer leer. Van hulle het nog nooit op ’n rekenaar gewerk nie en weet nie eens waar om dit aan te skakel nie.

“Die kursus bied hulle ’n geleentheid om vir die eerste keer kennis te maak met rekenaars en bemagtig hulle.

“Bejaardes geniet die kursus en is trots om ná die tyd vir hul kinders die sertifikaat te wys. Hulle vra sommer dadelik wanneer is die volgende kursus.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article