Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en sy vrou, Tracy, saam met ouma Nora de Kock in 2019.

Carol van Wyk

Kuilsrivier se vermeende oudste inwoner, ouma Nora de Kock (114) van Sarepta, is op Saterdag 28 September oorlede. 

Volgens haar identiteitsdokument is sy op 12 Mei 1910 gebore. Ouma Nora was onlangs in die hospitaal en het die laaste paar weke by ’n kleinkind gewoon, vertel Carol van Wyk, ’n vriendin en voorheen buurvrou van De Kock. 

Ouma Nora was nooit getroud nie. Volgens ’n familielid wat versoek het dat hul name nie genoem word nie, word sy oorleef deur haar twee kinders, sewe kleinkinders, 13 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.

Sy het voorheen vertel sy is in die Paarl gebore en het in Kalkfontein grootgeword toe dit nog plaas was. 

Reeds in 2014 het sy gesê dat sy die enigste oorlewende van haar ouers se 12 kinders was. 

Haar kinderdae was nie maklik nie. Sy het nie skoolgegaan nie en moes van jongs af reeds op die plaas help om die gesin te ondersteun. 

Haar ma het as huishulp vir die boer se vrou gewerk, het sy vertel. “Ek moes op ’n stoel staan om skottelgoed te was en het ook in die tuin gewerk.” 

Haar geloof was vir haar belangrik. 

Oudste inwoner oorlede

Ouma Nora de Kock (toe 111, volgens haar ID) kry in Junie 2021 haar eerste dosis van die Pfizer Covid-19 entstof by die VGK Sarepta.

Tydens haar 109ste verjaarsdagviering in 2019 het Alan Winde, Wes-Kaapse premier vir haar gevra wat die geheim is om so ’n gevorderde ouderdom te kan bereik. 

Sy het geantwoord dit begin by “eer jou vader en jou moeder”. “Wyse woorde van ’n nog wyser vrou,” het Winde gesê.

By ’n ander geleentheid het sy geantwoord: “Ken die Here in al jou weë en Hy sal jou deurdra.”

Ouma Nora het vertel sy sou enigiets eet. Sy het koek en koeldrank geniet, maar het nie alkohol gedrink of gerook nie. 

Vieringe

Carol van Wyk wat in 2010 die plaaslike wyksraadslid se assistent was het die viering destyds vir ouma Nora se 100ste verjaarsdag gereël. 

Daarna het Van Wyk, en later ook haar man, Stanley, daarvoor gesorg dat ouma Nora se verjaarsdag behoorlik gevier is. Van Wyk het borge genader vir bydraes en ander senior burgers uit die gemeenskap genooi om ouma Nora se verjaarsdagviering jaarliks by te woon. 

Met die viering in 2022 (112ste verjaarsdag) saam met 40 senior burgers uit die gemeenskap by die Sarepta-sportgronde het ouma Nora self ’n paar treetjies op die dansvloer gewaag. 

Van Wyk het vertel dat ouma Nora in die vroeë 2000s ’n beroerte gehad het. Sy kon lank sonder hulp loop, al was die bene en voete nie aldag lekker nie.

Twee jaar gelede het Ouma Nora vertel sy sou soggens self haar pap maak en sy het graag tamatiekos of sop gekook.

Van haar gelukkigste herinneringe het ingesluit toe apartheid afgeskaf is en toe sy haar huis gekry het.

Oudste inwoner oorlede

Carol en Stanley van Wyk staan by ouma Nora de Kock met haar 112de-verjaarsdagviering in 2022, wat saam met 40 senior burgers uit die gemeenskap in die saal van die Sarepta-sportterrein gevier is.

Sedert die pandemie het sy nie meer kerk toe gegaan nie, maar die pastoor van Bethesda Assemblies of God het haar tuis besoek, het Van Wyk vertel.

Van Wyk het ouma voorheen as ’n koel en kalm mense-mens beskryf. 

Na die algemene verkiesing in Mei 2011 het Die Burger berig: “Ouma Nora de Kock (101) het al vroegoggend haar pad gevind na die stemlokaal in Kalkfontein, waar sy haar kruisie gaan trek het. Haar ID-boekie, wat sy met trots rondgewaai het, wys dat sy op 12 Mei, verlede Woensdag, 101 jaar oud geword het.” Sy het toe gesê dat sy nog elke keer sedert die 1994-verkiesing gestem het.

Ouma Nora was blykbaar die oudste landsburger (104) wat ’n nuwe identiteitskaart gekry het toe Van Wyk (wat nog Crotz was) haar op 12 Mei 2014 binnelandse sake toe geneem het. 

“Carol Crotz, ’n buurvrou en gemeenskapswerker, vertel toe sy Maandag 12 Mei vir Nora vir haar smart card na home affairs neem, het beamptes gesorg vir ’n groot smile toe hulle luidkeels vir haar happy birthday gesing het,” het Die Son destyds berig.

  • ’n Gedenkdiens word more (2 Oktober) om 19:30 by Raadtstraat 10 in Sarepta gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article