Optog na die Kraaifontein-polisiestasie is vreedsaam

Foto ter illustrasie.


Sowat 70 inwoners verbonde aan die ANC in Wyk 6 van Kraaifontein het Vrydag na die Kraaifontein-polisiestasie opgeruk in ’n vreedsame protesaksie om hul pleidooie aan die Stad Kaapstad te rig.

In ’n memorandum wat aan subraad-voorsitter, Marian Niewoudt, oorhandig is het inwoners van Wallacedene talle eise gestel.

“Hierdie is die basiese behoeftes wat ons elke dag in die gesig staar. Ons vra dat die Stad ons swaarkry raaksien en prioriteit gee aan ons eise,” het die memorandum gelees.

Hulle het onder meer gevra vir grond om huise op te bou, beter gesondheidsdienste, die instandhouding van infrastruktuur soos paaie en riool asook elektrisiteitsvoorsiening in die plakkerskampe wat tydens die pandemie beset is.

Verder is daar gevra dat die Stad grond beskikbaar maak aan klein boere en aandag skenk aan misdaad en die probleem van werkloosheid onder die jeug.

Hulle het ook geëis dat ’n biblioteek, brandweerstasie en ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes nader aan die gemeenskap van Wallacedene gebou word. Niewoudt sê sy is baie dankbaar vir die gedissiplineerde wyse waarop almal deelgeneem het aan die optog.

“Die meeste van die eise val buite die Stad se mandaat, soos Eskom wat krag voorsien en die provinsiale en nasionale regering wat onderwys en gesondheid hanteer,” het sy aan TygerBurger gesê.

“Ons het begrip vir die gemeenskap se omstandighede en gee reeds aandag aan die probleme wat gespesifiseer is en daar is reeds verbetering.

“Die gemeenskap kan regtig ook help deur besit te neem van hul omgewing en te help om skoon maak en netjies hou.”

Die memorandum word nou na die burgemeester gestuur vir skakeling met die organiseerders.

“Amptenare was reeds voor die optog in die gesprek met die organiseerders om te kyk of oplossings gevind kan word,” sê Nieuwoudt.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, Joseph Swartbooi, is geen kriminaliteit tydens die optog aangemeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article