Prof. Mario Nell van Stellenbosch, direkteur van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie, en Aileen Maas van Plattekloof, NJMK-koördineerder (tweede van regs), vier die medalje-oes van die drie algehele wenners van die 2024 NJMK. Hulle is (van links) Chanda Bupe Lupambo van Stellenbosch (brons), Emma Steenkamp van Somerset-Wes (goud) en Yu Qing Peng van Woodmead in Johannesburg (silwer).

Slegs 24 opkomende sterre van reg oor Suid-Afrika is uit 35 inskrywings vir die 2025 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) gekies.

Die kompetisie vind van 1 tot 6 Desember in die Endlersaal van die Konservatorium-gebou in Victoriastraat in Stellenbosch plaas.

Hulle is ná video-oudisies deur ‘n paneel gevierde musici gekeur.

Dié kandidate tussen 14 en 19 jaar sal in die week lange kompetisie om die prysgeld van R180 000, die gesogte wentitel, goue, silwer- en bronsmedaljes meeding.

Die kompetisie word oor vier rondes in vyf kategorieë vir orkes-musiekinstrumente beslis, naamlik klavier-, stryk-, houtblaas-, koperblaas- en ander orkesinstrumente (harp, slagwerk, marimba en xilofoon).

Vanjaar kraai die pianiste koning met 11 mededingers, gevolg deur vyf tjelliste, drie saxofoonspelers, twee violiste, ‘n fluit-, hobo- en ‘n marimbaspeler.

“Die 13 nuwelinge onder vanjaar se deelnemers illustreer die diepte van klassiekemusiekonderrig in Suid-Afrika.

“Die drie pilare van hierdie kompetisie is om die land se opkomende klassieke sterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel,” sê prof. Mario Nell, NJMK-direkteur.

Oor die vyf dae lange wedstryd moet die deelnemers ‘n wye repertoire van hul eie keuse speel. Dit dek verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies. Al die mededingers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semifinaliste in die halfeindronde meeding om as die voorste ses musici aangewys te word.

Die leidende ses kandidate sal dan sake by ‘n galakonsert op Saterdag 6 Desember uitspook, begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).

Die jongste sterre (15 jaar) is van die Wes-Kaap afkomstig. Sewe mededingers is eerstejaarstudente van die Universiteit van Kaapstad, Universiteit van Pretoria en Universiteit Stellenbosch, terwyl die res van die kandidate ‘n verskeidenheid streke verteenwoordig.

Die name van die beoordelaars en kaartjiepryse vir die galakonsert op 6 Desember sal nader aan die kompetisie aangekondig word. Toegang tot die eerste drie rondes van 1 tot 4 Desember is gratis.

Plaaslike kandidate in die kompetisie sluit in James Cilliers (Durbanville), Kian en Quinn Goliath (Loevenstein), Karli Kennard (Brackenfell) en Yafei Wang (Plattekloof).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article