Linda Louw, ’n afgetrede inwoner van Jabulani-oord in Goodwood, deel haar inspirerende reis met kanker.
Sy vertel van die skok om tydens ’n roetine-ondersoek te hoor sy het kanker: “Baie mense wat ek ken en vir wie ek bid het kanker, maar om ná ’n roetine-ondersoek te hoor jy het die groot K, laat koue sweet op jou uitslaan en jy besef: ek moet voortgaan en al hoe ek kan, is met Jesus se hulp. My eerste gedagte was: Here, neem my hand in U sterke regterhand en lei my hierdeur,” vertel Louw.
Sy vergelyk haar ervaring met die Israeliete voor die Rooisee, waar Moses verseker is dat God vir hulle sou stry terwyl hulle stil moes bly..
“Die Here gee aan Moses die versekering (Exodus 14:14): ‘Ek sal vir julle stry en julle moet stil wees’. Hoe kan ek stil wees en nie vrees nie?” vra sy. Met hierdie gedagte besef Louw dat dit die begin van ’n lang pad is wat sy en die Here hand aan hand moet loop.
Moderne wetenskap
“Skielik sien ek lig in die tonnel en dank Hom vir die moderne wetenskap en tegnologie wat nuwerwetse behandelings moontlik maak,” sê sy.
MENING | ‘Jou histologie is terug en dit bevestig kanker’
Sy is dankbaar vir die toegewyde dokters en verpleegpersoneel wat empatie en kennis in hul werk toon, en voel bemoedig deur hul ondersteuning: “Tannie, ons sal saam met jou hierdeur gaan,” vertel Louw.
Louw sê ’n mens besef jy betree ’n nuwe fase van jou lewe met ongelooflike mensgemaakte masjiene en medikasies.
“Jy besef dis nie die einde nie; baie ander is al hierdeur en jy skep moed. Dokters en verpleegpersoneel word jou vriende en jy is diep dankbaar vir hul toewyding.
“Ek is dankbaar vir my man se geduld met my en nou kan ons selfs lag oor komiese voorvalle wat toe nie komies was nie. Ek is ook dankbaar vir my twee seuns, skoondogters, kleinkinders en familie asook die groot netwerk van vriende wat hierdie pad so positief saam met my gestap het en nog stap,” sê Louw.
Dankbaar vir elke dag
Elke nuwe dag bring nuwe sonskyn en vreugde, en sy is dankbaar vir elke dag wat sy behandelings, doktersafsprake en masjiene oorleef.
“Jy besef hoe bevoorreg jy is vir ’n tweede kans en te weet die Here het nog werk vir jou en jou familie het jou nodig,” sê Louw. Sy moedig lesers aan om hierdie uitdagende siekte as ’n tweede kans te beskou en toe te laat dat ons Hemelse Vader ons lei.
LEES OOK | Kankerlyer van Kenridge, Kaapstad ontvang sy laaste chemoterapie





