Verlede Woensdagaand het nog ’n brand op die stuk oorgroeide grond tussen Jagtershof en Saint Dumas-woonbuurte uitgebreek.
TygerBurger het verlede jaar berig oor die klagtes van inwoners aangrensend tot die grond, wat al sedert 2022 aankom oor die veiligheidsrisiko’s wat die gebrekkige onderhoud meegebring het.
Op 29 November verlede jaar het daar ook ’n brand tussen die ruigte bosse (meestal portjackson-bome) uitgebreek en het dit tot teenaan die grensmure van wonings in Foxhoundstraat in Jagtershof gebrand (“Brand is olie op vuur”, 06/12/2023). Verlede Woensdag se brand was nader aan Saint Dumas se huise.
Ná maande se oor en weer oor wie vir die instandhouding van die grond verantwoordelik is, sprake van ’n gebrek aan tenders, asook ’n sloerende oordrag van ’n groot deel van die grond (erf 26151, geoormerk vir skole) vanaf die Stad na die provinsiale regering – wat dinge skynbaar kompliseer het, was daar in Desember ’n tikkie hoop vir inwoners op die horison.
Theresa Uys, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, het toe op navraag van TygerBurger geantwoord dat die Stad se afdeling gemoeid met instandhouding met die afdeling vir biodiversiteitsbestuur, wat ’n geskikte tender het om die nodige werk te kan doen, kontak gemaak het (“Oorgroeide grond ‘prioriteit’, sê Stad”, 20/12/2023).
Uys het gesê die terrein is as “prioriteit” gemerk en “as alles volgens plan verloop” sou die werk middel Januarie kon begin.
Die werk is uiteengesit as: “die sny van die gras, die afsny van portjackson-bome, sowel as die verwydering van rommel en gestorte materiaal van die terrein.”
Helaas teen einde Januarie het Ulricke Europa, wat namens inwoners by die Stad gepleit het om optrede, op navraag van TygerBurger geantwoord dat “absoluut niks” nog gedoen is nie.
Sy het gesê onwettige storting op die grond het toegeneem en dat daar ook voorvalle van geweld tussen die plakkers in die bosse was.
En boonop was daar ook Kaapse kobras wat in agterplase opgeduik het.
Verlede week se brand het hulle verder ontstel.
Luthando Tyhalibongo, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het op TygerBurger se jongste navraag gesê die kontrakteur is sedert middel Januarie besig met ’n lys van eiendomme wat as hoë prioriteit gemerk is.
“Die Stad kan bevestig dat Jagtershof hoog op hul skedule gelys is. Die werk behoort binnekort, moontlik selfs volgende week, gedoen te word, as als volgens plan verloop,” het hy gesê.
Tyhalibongo sê die werk wat beplan word, sluit die afsny van portjackson-bome, sowel as die verwydering van rommel in.





