Om ’n hek agter jou oop te los, kan jou suur bekom, moes twee inbrekers, waarskynlik tot hul spyt, ontdek.
’n Parate sekerheidsbeampte van Fidelity ADT het vroegoggend tydens patrolliediens op die Contermanskloofpad op Saterdag 7 Mei gesien ’n hek op ’n plaas staan half oop en het gaan ondersoek instel.
Twee mans wat besig was om by ’n stoorkamer in te breek, is op heter daad betrap, het Jade Hanning, algemene bestuurder vir Fidelity ADT in die Wes-Kaap, in ’n mediaverklaring gesê.
Die sekerheidsbeampte was omstreeks 05:20 besig met patrolliediens in die omgewing van die Tygervalleipad, toe hy die oop hek sien.
Hy het hulp ontbied en hulle het die perseel betree, waar hulle gesien het die voordeur van ’n stoorkamer staan ook oop.
Hulle het twee mans binne-in gekry en aangekeer. Hulle het die verdagtes aan die polisie oorhandig, het Hanning gesê.
“Baie geluk aan ons beampte wat heel eerste die oop hek raakgesien het. Sy waaksaamheid het help verseker dat die verdagtes agter tralies kom waar hulle hoort,” het hy gesê.
In ’n ander voorval op ’n plaas naby Philadelphia het polisiebeamptes afgekom op ’n onwettige daggafabriek, het kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Die polisiebeamptes het beslag gelê op tien bokse dagga, 50 daggaplante, twee skale, drie waaiers en ander toerusting wat gebruik word in die vervaardiging van dagga.
Daar is verder ook beslag gelê op ’n onbekende bedrag kontant, twee gewere en nog ’n vuurwapen, asook 86 rondes ammunisie.
Die straatwaarde van die dagga moet nog bepaal word, het Van Wyk gesê
Twee verdagtes, ’n 47-jarige man en 56-jarige vrou, is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en dagga.





